Kampus stil ná ‘verkragting’

“Waarom is Universiteit Stellenbosch (US) se kampus so stil in verband met die verkragting wat daar plaasgevind het?”


#RedtAPE-plakkate is ná die aanmelding van nog ‘n verkragting by Universiteit Stellenbosch teen die J.S. Marais-standbeeld geplak.

“Waarom is Universiteit Stellenbosch (US) se kampus so stil in verband met die verkragting wat daar plaasgevind het?”

So lui ‘n inskrywing wat Maandag 4 April deur ‘n besorgde Matie op Twitter geplaas is.

Die inskrywing hou verband met die tweede verkragting in drie maande wat Saterdag 2 April by die US aangemeld is.

Behalwe vir #RedtAPE-plakkate teen die J.S. Marais-standbeeld en ander muurtjies op die universiteit se Rooiplein, het Maties soos gewoonlik klas gedraf en was daar nie ‘n ooglopende toename in sekuriteit nie.

Die vrouestudent is vermoedelik Saterdagoggend in haar kar by die parkeerarea tussen Metanoie en Heemstede verkrag.

‘n Verdagte, wat luidens ‘n verklaring deur die US nie ‘n student by dié universiteit is nie, is reeds in hegtenis geneem en verskyn vandag in die Stellenbosch-landdroshof.

“Die vrouestudent is onmiddellik ná die voorval ondersteun deur lede van haar studentegemeenskap, insluitend vriende, studenteleiers van die koshuis, die koshuishoof en die US se 24-uur Krisisdiens.

“Hulle het haar onder meer gehelp om die nodige mediese sorg te kry, en die saak by die polisie aan te gee. Vroulike lede van Kampussekuriteit het later ook steun gebied,” lui die verklaring.

Lede van die US-bestuur het hul bekommernis oor die geaffekteerde studente in die verklaring uitgespreek.

“Verkragting is ‘n verskriklike en afskuwelike misdaad, en om deel te wees van gemeenskappe waar verkragting plaasvind, is uiters ontstellend. As ‘n gemeenskap is ons geskok oor die geslagsgeweld in ons samelewing.

“Sulke gebeure laat ernstige letsels – nie net op ons studente wat direk geraak word, maar ook ander studente sowel as ondersteuningspersoneel, akademici en bestuurslede van ons universiteit.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.