Altesaam 32 kanker-oorwinnaars van Stellenbosch het Saterdag 11 Junie bymekaar gekom om Kanker-oorwinnaarsdag te vier.
Die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) vier saam met die res van die wêreld in Junie Internasionale Kankeroorwinnaarsdag.
“Hoewel Kansa kanker-oorwinnaars deur die jaar ondersteun, was Saterdag ’n spesiale dag vir Stellenbosch se kankeroorwinnaars en ’n geleentheid om kankerpasiënte te erken, hetsy die pasiënte nuut gediagnoseer is, behandeling ondergaan of hulle in remissie is.
“Op hierdie dag is erkenning gegee aan die moed en vasberadenheid wat dit verg om teen kanker te baklei,” sê Naomi Philander van Kansa-Boland/Overberg.
“Kanker-oorwinnaars moet tree vir tree op hul reis met kanker ondersteun word. Hulle moet ook bemoedig word om nie die stryd teen kanker gewonne te gee nie.”
Philander sê ondersteuning is belangrik omdat pasiënte aanvanklik die skok van die diagnose moet verwerk en dit met hul geliefdes deel.
“Hulle moet ook die kort- en langtermyn-newe-effekte van hul behandeling leer baasraak. Daarom is dit ook ’n geleentheid om mense met hoop te inspireer dat kanker wel oorwin kan word en om kanker-oorwinnaars te herinner dat hulle nooit alleen is nie.”
V Kontak jou naaste Kansa-sorgsentrum, of bel Naomi Philander by 021 873 6358 of 061 209 9426 of stuur e-pos na nphilander@cansa.org.za vir ondersteuning.