Die o.11-span van die Cloetesville-sokkerklub het Woensdag 1 Mei koning gekraai in die jeugtoernooi wat deur die Stellenbosch- Plaaslike Sokkervereniging aangebied is. Die span kranige jong spelers het nie toegelaat dat verskeie hindernisse hulle keer in hul strewe na oorwinning nie. Hulle moes weens bendegeweld in hul gemeenskap by ander venues vir die toernooi voorberei, maar het steeds op die dag uitstekende sokker opgedis om as die kampioene aangewys te word.
Die talentvolle Draytine Davids van Cloetesville-sokkerklub het ook die toekenning vir Speler van die Toernooi verower. Regs ontvang hy sy trofee van Morne Crumpton, junior koördineerder van Stellenbosch FC.