Kanonkop, wat internasionaal erken word as Suid-Afrika se voorste rooiwynlandgoed, het Laibach aangekoop – ’n organiese wynplaas aangrensend aan Kanonkop in die Simonsberg-wyk van Stellenbosch.
Laibach is sedert 1994 in die besit van die Duitse Laibach-familie wat die landgoed uitgebou het tot ’n toonaangewende Kaapse wynplaas, wat veral bekend is vir organiese produksie van hul 40 ha prima Simonsberg-terroir. Die bedrag wat Kanonkop vir Laibach betaal het, is nie bekend gemaak nie.
Volgens Johann Krige, mede-eienaar van Kanonkop saam met sy broer Paul, sal die aankoop van Laibach vir Kanonkop in staat stel om toekomstige waarde te ontsluit in hul wynondernemings. “As ons buurplaas deel Laibach en Kanonkop ’n soortgelyke terroir, met verweerde granietgrond en ’n Mediterreense klimaat,” sê Krige. “Simonsberg is gesogte eiendom vir wingerdbou en wynmaak, en as ’n familiewynbesigheid kon Kanonkop nie so ’n geleentheid laat verbygaan om ’n aangrensende eiendom soos Laibach te bekom nie.”
Kanonkop, wat 100 ha onder wingerd het, is beroemd vir sy pinotage- en cabernet sauvignon-landgoedwyne, asook vir die Paul Sauer rooi Bordeaux-versnit wat genoem is na die plaas se stigtersvader en die Kriges se oupa. Naas hierdie landgoedwyne produseer Kanonkop ook die Kadette-reeks wat gemaak word van geselekteerde druiwe van uitsoek Stellenbosch-wingerde.
Laibach het ’n kelder en verskeie ander geboue insluitend gaste-akkommodasie asook organies verboude wingerde. Die Laibach-bestuurspan van Michael en Anél Malherbe, wynmaker Francois van Zyl en alle werknemers sal op die landgoed aanbly. Die verkoper, dr. Petra Laibach-Kühner, wat aftree, verwelkom die aankoop deur Kanonkop, wat haar voorkeur-koper was. “Ek is geweldig trots op wat my span geskep het by Laibach, enersyds as ’n tuiste in een van die wêreld se groot wynstreke, maar ook as ’n toonaangewende en baanbrekende organiese wynhandelsmerk,” sê Laibach-Kühner. “Ek verlaat hierdie plaas met ’n swaar hart, maar in die wete dat dit nou in die goeie hande is van die Krige-familie wat Kanonkop ontwikkel het tot een van die werklik uitstaande wynplase.”


