Die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) het in Junie saam met die res van die wêreld Internasionale Kankeroorwinnaarsdag gevier.
Hoewel Kansa kankeroorwinnaars deur die jaar ondersteun, was Sondag (30 Junie) ’n spesiale dag vir Stellenbosch se kankeroorwinnaars.
’n Geleentheid is aangebied om aan kankerpasiënte erkenning te verleen, hetsy kanker onlangs by die pasiënte gediagnoseer is, hulle tans behandeling ondergaan of in remissie is. Op hierdie dag is erkenning gegee aan die moed en vasberadenheid wat dit verg om teen kanker te baklei.
Naomi Philander, ’n maatskaplike werker van Kansa, het by die geleentheid gesê “kankeroorwinnaars moet tree vir tree op hul reis met kanker ondersteun word”.
“Hulle moet ook bemoedig word om nie die stryd teen kanker gewonne te gee nie,” het Philander gesê.
“Aanvanklik moet hulle die skok van die diagnose verwerk en hulle moet dit met hul geliefdes deel. Hulle moet ook die kort- en langtermyn- newe-effekte van hul behandeling leer baasraak. Dit is ook ’n geleentheid om mense met hoop te inspireer dat kanker wel oorwin kan word en om kankeroorwinnaars te herinner dat hulle nooit alleen is nie.”
- Skakel 021 873 6358 of 061 209 9426 of stuur e-pos na nphilander@cansa.org.za vir inligting oor jou naaste Kansa-sorgsentrum of om met Philander kontak te maak.