’n Boom wat skouspelagtig vertoon wanneer hy blom, is die kapokboom (Ceiba pentandra), in Engels bekend as kapok tree of silk floss tree. Die eerste pienk blomme verskyn vroeg in April, en teen die einde van die maand is die boom oortrek met blomme en vertoon hy op sy mooiste. ’n Pragtige voorbeeld kan gesien word voor die huis van Attie Mostert in Colignystraat 10, Dalsig. Die straatjie loop parallel met Rheedestraat, waarmee ’n mens uit die middedorp na die Strandpad (R44) ry.
Mostert, ’n bekende byeboer, vertel hy het die boom as ’n plantjie by Una van der Spuy, ’n bekende tuinboukundige, gekry toe hy sowat 40 jaar gelede ’n swerm bye by Old Nectar verwyder het. Nou is die boom groot, maar moontlik nog nie uitgegroei nie, want in Mexiko en Sentraal Amerika, waar die boom vandaan kom, kan dit tot 70 meter hoog word. Dit is dus van die hoogste bome in die wêreld, maar in Suid-Afrika haal hy gewoonlik net so 25 m.
Kenmerkend van die boom is die talle stewige dorings aan die stam en takke, wat veral uitstaan as die boom sy blare verloor. Die boom dra ook vrugte in die vorm van peule met talle saadjies wat deur sy-agtige vesels omhul word. As die peule oopbars, sweef die sade weg en so versprei die boom. Eienaardig genoeg dra Mostert se boom nie hierdie peule nie.
Dis juis vir hierdie peule dat die boom op groot skaal in die reënwoude van Asië, veral in Java, die Filippyne en Maleisië verbou word. (Die naam kapok kom juis uit Maleisië, waar dit as keipok uitgespreek word).
Die peule word geoes en die vesels om die sade word gebruik as vulmateriaal vir meubels, matrasse en kussings. Olie word ook uit die sade gepers.
Baie bome verdryf die somberheid van die herfs met hul veelkleurige blare, maar die kapokboom doen dit met ’n skouspel van pienk blomme.
Moet dit nie misloop nie!