Ben “Oupa” Menilla en Maghmoed Kara (regs) in 2018 met die eerste oes van die groentetuin wat Kara help vestig het. Foto: Eikestadnuus-argief


Dit maak nie saak of dit skoolskoene of ’n bakkie vol appels is nie, indien hy skenkings vir die laerskool kan kry, skenk Maghmoed Kara dit aan Idasvallei Primêr.

Kara (59), ’n lewenslange inwoner van Idasvallei, is ’n voormalige politikus en was al by vele gemeenskapsorganisasies betrokke. Ten spyte van die vele hoede wat hy dra, is hy altyd gereed om hand by te sit om die leerders van die plaaslike laerskool te help.

“Dit blyk byna wie ook al in die skoolhoof se stoel sit, erf vir meneer Kara. Hy het beslis ’n hart vir die skool en is altyd vol idees oor hoe om die skool te verbeter, ten bate van die kinders,” sê Zachary Snyders, adjunkhoof van die skool.

Oor die jare het Kara vele skenkings vir die skool se voedingskema gevind. Om die leerders in die lang termyn te help voed het hy ook gehelp om ’n groentetuin by die skool te vestig.

Snyders meen Kara is werklik ’n vriend van die skool. Hy leef dié status uit en werk steeds om die skoolgemeenskap by te staan.

“Hy is nie juis iemand wat hou van in die voorgrond wees nie, maar werk liewer agter die skerms. Hy werk om die kinders op te hef,” sê Snyders.

Een van Kara se jongste voorstelle aan die skool was vir ’n wiskunde-vakansieprogram.

Of dit nou letterlik of figuurlik is, Kara meen dit is deel van sy plig as gemeenskapslid om ’n saadjie tot voordeel van ander in sy tuisdorp te plant. Kara sê hy woon gereeld die Stellenbosch-munisipaliteit se geïntegreerde ontwikkelingsbeplanning (GOP)-vergaderings by wat help om ’n verskil in die gemeenskap te maak. Destyds was daar op ’n GOP-vergadering ’n voorstel vir voetoorgange in Bloemhoflaan weens die spoedvrate wat verby die laerskool en Hoërskool Lückhoff gejaag het. Kara meen om ’n aktiewe burger te wees het gehelp om dié voorstelle ’n werklikheid te maak.

Hy het ook heelwat planne vir sy buurt en nooi ander inwoners om aktief gemeenskapsake aan te pak.

You need to be Logged In to leave a comment.