Karlien en Kandas-speelskool het altesaam R94 162 aan Hanna Charity & Empowering Foundation geskenk vir die bou van ’n nuwe biblioteek in Cloetesville. Henriette Nel (van die Ouer-en-Onderwysersvereniging by die speelskool Karlien en Kandas), Hanna Grobler (uitvoerende hoof van Hanna Charity), Marichen Vlok (skoolhoof van Karlien en Kandas), Elmien le Grange (van die OOV) en Charlene Vlok (van Karlien en Kandas) by die oorhandiging. Foto:


Die Karlien en Kandas-speelskool in Die Boord het onlangs R94 162 aan Hanna Charity & Empowerment Foundation geskenk ter ondersteuning van die organisasie se werk in Stellenbosch.

Die speelskool pak jaarliks ’n liefdadigheidsprojek aan en samel geld in vir ’n organisasie van hul keuse en vanjaar het hulle op Hanna Charity besluit.

“Ons het ’n skoolfunksie gehou waar ouers kaartjies gekoop en lekker gesellig verkeer het en by dié geleentheid het ons ’n groot wynveiling gehou. Ons het skenkings van plase, ouers en ondernemings gekry. Ons het ook ’n kunsveiling gehou met ’n kunsstuk van Jakobus Silwer,” vertel Charlene Vlok van die speelskool.

Onder van die veilingstukke was ’n oorspronklike geraamde foto van die rock-groep The Rolling Stones wat die The Rolling Stones aan die skool geskenk het. “Ja, die regte Rolling Stones het dit vir ons geskenk en Karen Zoid het die geraamde foto vir R30 000 gekoop.”

Vlok sê die skool het Hanna Charity gekies as begunstigde, nie net omdat die stigter Hanna Grobler ’n ouer van die skool is nie, maar oor die ongelooflike werk wat die organisasie onder arm gemeenskappe in Stellenbosch doen. “Die opbrengs gaan spesifiek vir hul biblioteek wat verlede jaar afgebrand het,” het Vlok bygevoeg.

Grobler sê sy is ongelooflik dankbaar vir die gebaar van Karlien en Kandas en die geld gaan baie help om die biblioteek weer op te rig.

“Ons is baie opgewonde hieroor. Die biblioteek is ’n baken van hoop vir ’n gemeenskap soos Smartie Town in Cloetesville, waar ons werk. En toe dit verlede jaar afgebrand het, was dit baie hartseer vir ons, maar danksy Karlien en Kandas kan ons weer een oprig,” voeg Grobler by.

Sy sê die geld gaan help dat hulle nou ’n meer brandbestande materiaal kan gebruik om die nuwe biblioteek te kan bou.

“Mense is reeds besig om boeke in te samel, insluitend die speelskool. So ons is opgewonde dat ons weer ’n biblioteek sal kan oprig.”

You need to be Logged In to leave a comment.