Karlien & Kandas vier 40ste jaar

Stellenbosch is die sentrum van die Beterwetenskap, het C.J. Langenhoven destyds gesê.


Stellenbosch is die sentrum van die Beterwetenskap, het C.J. Langenhoven destyds gesê.

Jare terug het ’n petroljoggie gesê hy spreek sommer al die mans in die dorp as “professor” aan. Sy verweer was dat die meeste klante wel professore was en dat dié wat nie hoogleraars was nie, in elk geval daarvan gehou het.

Stellenbosch is landswyd bekend vir sy eeue oue universiteit en skole. Oor die dorp se voorskoolse onderwysinrigtings is min bekend. Hoewel juis hulle die belangrikste sentrums vir opvoeding is, want: “Ons predikant is dominee; ons prinsipaal meneer, professor-doktor is my pa, maar juffrou moet my leer”.

’n Besonderse kleuterskool, Karlien en Kandas, het vanjaar veertig geword – Covid-19 het egter veroorsaak dat geen partytjie gehou kon word nie.

Die skool met die motto “Waar ’n kind nog kind kan wees en waar speel nie tydmors is nie,” is in 1980 deur Nelie Vos op ’n perseel in die Boord gestig.

Marichen Vlok het die skool in 1990 oorgeneem. Die skool se oorspronklike naam kom uit die MER-gedig oor twee opgeskote kinders wat ’n klein kindjie moes oppas:

“Ai, dis swaar,” sê Kandas vir Karlien, “om so heeldag die kind op te pas (want dis aldag en heeldag se swaardrag en veeldrag)…”

Hierdie skool het sy deure al voor 1994 vir alle rasse oopgestel. Die voedingsbron is hoofsaaklik uit die direkte omgewing, onder meer Die Boord, Dalsig en Jamestown.

Van die kinders wat in die skooltjie was, het later uitgestaan en skoolleiers by Bloemhof, Stellenzicht en Paul Roos geword. Vandag is die skool steeds ’n beeld van die Reënboognasie.

Die huidige skoolhoof is uitgeknip vir haar taak. Met voorskoolse opleiding aan Denneoord-onderwyskollege en ’n nagraadse kwalifikasie in die opvoeding van kinders met minimale breindis­funksie, is sy gewis op die regte plek.

Boonop het sy in die stad Providence, Rhode Island, vir twee jaar met erg getraumatiseerde kinders gewerk. Sy onthou juis ’n Indiaanse seuntjie wat albei sy ouers verloor het toe hul tent (“Wig Wam”) afgebrand het.

Die onderwyseresse het almal universiteitsopleiding en elkeen word deur twee assistente bygestaan. Die skool het aparte klassies vir twee-, drie- vier- en vyfjariges. Die vyfjariges is in die graad RR-fase. Die klas kon weens die pandemie ook nie die Kersspel opvoer nie.

Elke jaar vind die gehoor die binnekoms van die herders die amusantste – elkeen met ’n “softie toy”-skapie onder die blad.

Soos die matrieks wat geen matriekafskeid kon hê nie, kon dié vyfjariges nie vanjaar meeding om die rolle van Josef en Maria nie. Ook kon die musikales onder die heel kleintjies nie meeding om die solo’s te sing nie. ML de Villiers, die komponis van die ou Volkslied, “Die Stem”, het dalk drie jaar agter mekaar uit die hemel gehoor hoe sy agteragterkleinkinders Koos du Plessis se “Somerkersfees” sing.

Suid-Afrika het blykbaar nog twee kleuterskole met dieselfde naam – een in Roodepoort en een in Upington. Miskien is Stellenbosch se Karlien & Kandas uniek omdat hy sy eie skoollied het, geskryf en getoonset deur die oudonderwyseres Marietjie Wium.

Uitsonderlike skool of te nie, die oud-leerders sê steeds hul K&K-jare was die gelukkigste tyd van hul lewe. Baie woon elke jaar steeds die kermis by.

Op Oupa- en Ouma-dae vergeet die grootouers geriefshalwe die Bybelse voorskrifte en opdragte – hulle storm eenvoudig op die voorste gestoeltes af en dink hul kleinkind is die heel beste, wat hul nederige kleinkinders soms lelik in die skande steek . . .

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.