Kayla Pretorius, ’n graad 12-leerder aan die Hoër Meisieskool Bloemhof, is onlangs as een van die vyf finaliste in die Sarie- NUWE GESIG-kompetisie aangewys.
Die wenner van hierdie kompetisie, in trotse samewerking met die Isa Carstens-akademie, word op 4 Oktober op Sarie.com aangekondig en verskyn op die voorblad van ’n kleiner weergawe van Sarie se November/Desember-uitgawe. Die kompetisie is spesiaal vir hoërskoolmeisies tussen graad 10 en 12.
Vandat die kompetisie in 2011 begin is, was die fokus op die hutsmerk #jyisgenoeg en daag dit meisies uit om hulself as goed genoeg te ag.
’n Opgewonde Pretorius sê dit voel vir haar soos ’n sprokiesdroom en sy wag om wakker te word. “Sarie skep só ’n positiewe en gesonde beeld vir die jeug en ouer vroue. Ek het besluit om vir die Sarie- Nuwe Gesig-kompetisie in te skryf omdat ek die platform wil gebruik om ’n stem te wees om ander te motiveer en te inspireer. Ek glo een mens kán ’n verskil maak, al is dit hoe klein,” sê sy oor haar inskrywing.
Sy sê sy het hoofsaaklik vir haar eie selfbeeld en liefde vir die kamera vir die kompetisie ingeskryf. “Jy is soms krities oor jouself en oor hoe ander mense jou sien. Ek voel mense is geneig om hulself te verander om aan ander mense se onrealistiese verwagtinge te voldoen. Ek het besef my imperfeksies is alles dinge wat my uniek maak en ek het myself leer liefhê. Ek het geleer om my imperfeksies te aanvaar.”
Pretorius sê sy is van kleins af lief vir en gemaklik voor die kamera, en toe sy hoor dis tyd vir die Sarie- Nuwe Gesig 2022 inskryf, het sy dadelik ingeskryf.
“My ervaring tot dusver is een groot seëning. Sarie het só ’n groot impak gehad op die manier hoe ek myself beskou – positief, natuurlik. Ek is daagliks verras dat ek as ’n finalis vir die kompetisie aangekondig is. Woorde kan eerlikwaar nie my dankbaarheid beskryf nie!”
“Ek raai ander hoërskoolleerders aan om in te skryf. Dit het my selfbeeld opgebou en dit het my gewys dat ek genoeg is. Ek was heeltemal sprakeloos toe ek uitvind ek is ’n Top 30- finalis; nog meer toe ek as ’n Top 5- finalis aangewys is. Wie nie waag nie, sal nie wen nie.”