Vertel ons meer oor jou komvandaan. Is jy oorspronklik van Stellenbosch? Ja, ek is ’n boorling van Stellenbosch en het in Cloetesville grootgeword. Ek is die enigste kind van my ouers, Rowman en Ruth Kayser. Van kleins af is ek maar uitgeskel oor my mond. Ek het baie gehou van klets. Ek doen dit steeds baie. Bubbly and full of energy, het my onderwysers altyd gesê. Aangesien dit altyd net ek was, moes ek altyd maniere vind om myself besig te hou.
Waar het jy skoolgegaan? Ek was op laerskool in Idasvallei Primêr en het in 2019 aan die Hoërskool Franschhoek gematrikuleer.
Waar en wat het jy geswot? Ek was by Northlink-kollege, waar ek in die uitvoerende kunste gestudeer het.
Waar en wanneer het jou liefde vir teater ontstaan? Die teater-gogga het my regtig eers in my matriekjaar gebyt. Ons het ’n nuwe onderwyser gekry, wat toe ’n dramagroep begin het. Ek het aangesluit en die groep het ingeskryf vir die ATKV Tienertoneel-kompetisie. Ons het nie ver gekom nie, maar ek het daarna besluit om in iets in die kunste te studeer. As kind het ek nie dramaklasse geneem nie, maar van die ouderdom van sewe tot 13 het ek balletklasse by die Stellenbosch Ballet Association geneem. Tydens my studies was ek in 2022 deel van die Suidoosterfees en vanjaar het ek my eerste teaterstuk geskryf en geregisseer vir die Baxter Zabalaza-fees. Hier het ek die prys vir die beste regisseur losgeslaan.
Waarom het jy besluit om juis ’n aanpassing van ‘Boesman en Lena’ aan te bied? Regie was een van die modules wat ek op kollege moes voltooi. Ons moes ’n teaterstuk kies, en ek het Boesman en Lena gekies sonder om twee keer te dink. Ek voel dis ’n tydlose verhaal; enigiets geskryf deur Athol Fugard is goud werd. Een van my lektors het my ’n idee oor die stuk gegee en ek het dit aangegryp. My kop werk anders, want ek sien prentjies van hoe ek wil hê dinge moet uitspeel en dan gee ek dit lewe.
Waaroor gaan die produksie?Boesman en Lena reis al dae aaneen, sonder om te stop. Lena is Boesman se slaansak, al is dit somtyds vir niks. Toe Outa by hulle beland, word albei karakters op verskeie maniere geraak. Temas soos selfwaarde en vryheid word in die stuk rondgegooi. Lena is ’n sterk bruin vrou wat somtyds te veel praat. Soms voel sy so verlore dat sy haar eie naam vergeet en nou en dan soek sy Boesman se validation. Boesman is ’n baie aggressiewe karakter. Hy wys sy emosies deur sy vuiste en dit word op die einde bevraagteken. Outa is ’n ou, sieklike man wat van êrens af kom; op die ou einde bring hy baie troos in Lena.
Watter boodskap wil jy met ‘Boesman en Lena’ laat deurdring? Ons moet nie vergeet van die opofferings wat ons voorouers gemaak het sodat ons vandag in ’n vry samelewing kan lewe nie.
Wat, na jou mening, is uniek aan die produksie? Dit vind buite plaas, en ek dink dis pretty cool. Ek het dit reggekry om Swartskops, waar Boesman en Lena woon, na die gehoor te bring.
Waarom sou jy sê mense moet dié produksie sien? Almal kan sit en iets leer van die karakters, Boesman en Lena.
Hoe het dit gekom dat die produksie deel is van die Hessequa Harmonie-kunstefees? Niël Rademan, wat die fees van stapel gestuur het, was lid van die beoordelaarspaneel by ’n kompetisie by Northlink-kollege verlede jaar. Ek dink hy het hier op die produksie verlief geraak en gevoel dit moet deel van die fees wees.
Waarna sien jy die meeste uit met die lopie by die fees? Die reis- gedeelte; ek was nog nooit in Heidelberg nie. Ek kan ook nie wag vir akteurs om ’n asemrowende opvoering aan te bied nie.
Hessequa Harmonie vind van Dinsdag 19 tot Saterdag 23 September in Heidelberg plaas. Die amptelike program-bekendstelling van die sesde jaarlikse kultuurfees is op 9 Augustus by die Simon-wynemporium by De Warenmarkt in Stellenbosch deur Rademan behartig. Gaste het hier ’n voorsmakie gekry van die pragtige musiek en van die kunstenaars wat vanjaar gaan optree, onder wie Stanislav Angelov, Veronica Bell en Corneil Muller. Die fees word ook deur die Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief ondersteun.