’n Veelsydige sportman van Lanquedoc maak binnekort sy buiging in die o.19A-krieketspan van Paul Roos Gimnasium – en hy is maar net 15 jaar oud!
Keauno Williams is ’n talentvolle kolwer en bouler wat vinnig in krieketkringe naam maak. Hy is tans lid van die PRG-toergroep aan St. David’s Marist Inanda in Johannesburg. Die toer duur van vandag (Donderdag) tot Sondag 4 September.
“Ek is baie opgewonde om lid van die skool se eerste span te wees,” het Keauno gesê. “Dit is vir my ’n voorreg om die skool se o.19A-span op 15-jarige ouderdom te verteenwoordig.”
Dié saggeaarde jeugdige het sy eerste ontmoeting met sy geliefkoosde sport as gr. 5-leerder aan Pniël Primêre Skool gehad. Dit was veral die samesyn en spanwerk van krieket wat hom tot die sport aangetrek het. “Ek geniet dit om my spanmaats te motiveer om nie tou op te gooi nie en ons foute reg te maak. Ek glo dit is een van my sterkste eienskappe, want ek gee nooit op nie.
“Wanneer ek die krieketveld betree, is ek vasbeslote om my beste te gee. Die sport maak my opgewonde en ek glo dat ek net daarin kan verbeter.”
As openings- of nommerdriekolwer is hy nie bang om sy teenstanders se snelboulers aan te durf nie en trots op die feit dat hy sy hoogste telling – ’n gesonde 86 lopies – as gr. 7-leerder aangeteken het. Tog, voeg hy vinnig by, hoop hy om sy eerste honderdtal vir die PRG se o.19A-span aan te teken.
As snelbouler het hy die groot prestasie van vyf paaltjies in ’n wedstryd behaal en hoop om op dié prestasie te verbeter.
Keauno droom om eendag, soos sy helde Dale Steyn, Kagiso Rabada, Quinton de Kock en Faf du Plessis, die land as lid van die Protea-span te verteenwoordig. Hy geniet die spel van dié spelers veral vir hul aggressie en toewyding op die krieketveld.
Keauno is nie net passievol oor krieket nie; hy is ook ’n talentvolle rugbyspeler wat nie terugstaan vir ’n uitdaging op die rugbyveld nie. Hy het vanjaar vir die PRG o.15-groep as losskakel en buitesenter uitgedraf.
Sy trotse pa, Jeremy, meen sy seun “is maar ’n stil outjie”, maar sy leierskapseienskappe skyn duidelik op die sportveld deur. “Keauno se insluiting in die PRG-o.19A-krieketspan is ’n massiewe erkenning op so ’n jong ouderdom, maar dit gaan harde werk en dissipline verg om daar te bly,” sê Jeremy. “Ons is baie trots op hom en hoop hy die meeste van die kanse wat hy gebied word, sal maak. Baie deure kan vir hom oopgaan as hy gedissiplineerd en gemotiveerd in sy sport en akademie bly.”