Die gewilde Afrikaanse koswerklikheidsreeks, Kokkedoor, vier aanstaande jaar sy tiende verjaarsdag, en die viering sal weer as ’n hoofgereg op kykNET vlamvat!
Kykers het in 2013 vir die eerste keer aan die Kokkedoor-tafel kom aansit, en oor die jare het nog familielede van die reeks – Koekedoor, Kokkedoortjie en Koekedoortjie – geurryke vermaak verskaf. Wanneer die´ unieke reeks volgende jaar van die spensrak afgehaal word, trek dit ’n nuwe braaivoorskoot, Kokkedoor Vuur & Vlam, aan.
Vir Kokkedoor Vuur & Vlam gaan deelnemers alles in die vlamme, op die kole, in die as of op die rooster moet voorberei. Soos met die vorige reekse, is belangrike bestanddele weer eens die kombinasie van vernuwing en onthou, van oud en nuut asook van nostalgie en die onbekende.
Daarom soek kykNET nou vurige spanne, wat uit twee lede bestaan, om aan die reeks deel te neem. ’n Span bestaan uit ’n pro, wat ’n professioneel of opgeleide mens in die kosbedryf is, en ’n familielid, wat die entoesias is en passievol is om te braai.
Besoek www.kyknet.tv of stuur ’n video per WhatsApp-boodskap na 064 736 5013 om voor of op Donderdag 1 Desember in te skryf.
Vir die inskrywingsvideo, wat nie langer as drie minute mag wees nie, moet spanne hulself bekendstel, vertel wie hulle is, sê van waar hulle is, verduidelik wat die professionele spanmaat se kwalifikasies of kos-agtergrond is, beskryf wat die familieverband is en vertel hoekom hulle wil deelneem.
Spanlede moet minstens 18 jaar oud op die dag van die oudisie en ’n Suid-Afrikaanse of Namibiese burger met ’n geldige identiteitsdokument wees.
Oudisies sal in Januarie en Februarie 2023 in Kaapstad, Bloemfontein en Gauteng gehou word, met verfilming wat van 17 April tot 6 Mei 2023 in die Kaap-omgewing plaasvind.
Vir nadere inligting, stuur ’n e-pos-navraag na navrae@kokkedoor.tv.