Terwyl Nasionale Beroerteweek 28 Oktober begin het, doen die Wes-Kaapse gesondheids-departement ’n beroep op inwoners om gewoontes te verander wat hulle toenemend kwesbaar vir beroertes maak.
“Volgens Boehringer Ingelheim se Angels-inisiatief sterf daar elke jaar minstens 132 000 mense in Suid-Afrika weens beroertes. Beroertes is die tweede mees algemene oorsaak van sterfte in die wêreld en die derde voorste oorsaak van gestremdheid,” luidens ’n verklaring deur Sandra Maritz, van die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement.
Volgens Maritz kom ’n beroerte kom wanneer suurstofryke bloed van die brein afgesny word. Dit kan dodelik wees, maar as u oorleef, sal u dalk intensiewe rehabilitasie ondergaan en u kan permanent gestremd wees.
Deur u lewenstyl aan te pas, kan dit u kanse om ’n beroerte te kry aansienlik verminder:
•Hou op rook. Rook is veral gevaarlik vir mense wat alreeds hoë bloeddruk het omdat hoë bloeddruk bydra tot die beskadiging van slagare.
•Raak aktief. As u gereeld vir ’n vinnige wandeling gaan, kan dit u help om ’n gesonde gewig te handhaaf en om ontslae te raak van stres.
•Drink minder alkohol en meer water.
•Bestuur u stres. Maak oop met iemand wat u vertrou of spandeer tyd om aktiwiteite te doen wat u ontspannend vind, soos lees of kos te berei.
•Beplan u maaltye. As u vooruit beplan, sal u minder geneig wees om iets soets te gryp om te eet as om ’n maaltyd te hê wat al die verskillende voedselgroepe het wat u liggaam benodig. Sluit altyd soveel as moontlik vars vrugte en groente by u maaltye in.
Gemeenskapslede, “be fast” om die simptome wat met beroertes verband hou, te herken:
B: Balans. Ervaar u ’n verlies aan balans of skielike, erge hoofpyn of duiseligheid?
E: Oë. Is u visie skielik wasig?
F: Gesig. Reageer slegs een kant van u gesig wanneer u probeer glimlag?
A: Arm- of beenswakheid. Kan u maklik albei arms en bene oplig?
S: Spraak. Sukkel u om te praat? Praat u stadiger as gewoonlik of sukkel om te sluk?
T: Tyd om onmiddellik 10177 te skakel, of gaan na die naaste hospitaal.
“As u nie ’n beroerte gehad het nie, kan personeel by plaaslike klinieke u help om u risiko om ’n beroerte te kry te bepaal en veranderinge te maak soos reeds genoem, om u risiko te verlaag.”
Maritz sê dit is noodsaaklik om vir bloeddruk- en bloedsuikertoetse te gaan. As u in die verlede ’n beroerte gehad het, is u kanse om nog een te kry groter. Maak seker u familie en vriende gaan saam met u na die kliniek sodat hulle verstaan wat gebeur tydens ’n beroerte en hoe hulle u tuis kan ondersteun. Gebruik altyd u medikasie soos aanbeveel by die kliniek, en volg hul leiding.