Kers-kospakkies vir leerders

Die pakhuis van Carmen Stevens Wines was ’n “bynes” van bedrywighede, maar die “besige bytjies” was nie besig met wyn nie – eerder met kospakkies.


Die pakhuis van Carmen Stevens Wines was ’n “bynes” van bedrywighede, maar die “besige bytjies” was nie besig met wyn nie – eerder met kospakkies.

Benewens Stevens se werk as wynmaker bestuur sy ook die Carmen Stevens-stigting wat voedingskemas by skole van die Kaapse Vlaktes tot Ceres aanvul. Die stigting help altesaam 26 257 leerders om daagliks ’n maaltyd by die skool te kry. Volgens Stevens is hierdie maaltye vir baie kinders die enigste bord kos wat hulle bedags kry.

In die aanloop tot die Desember-skoolvakansie het die stigting sy skole gevra om elk 10 van sy mees kwesbare kinders te identifiseer om elk ’n kospakkie te ontvang.

Vrywilligers, geklee in swart en geel, het Saterdag 30 November by die pakhuis in Distilleryweg bymekaargekom om 2 000 kospakkies te help pak. Die kospakkie is propvol basiese stapelvoedsel soos meel, rys en lensies.

Dit is belangrik om te verseker die kospakkies het genoeg voedingswaarde om ’n gesin van vyf te kan voed, sê Stevens. Sy sê voorts die logistiek om al 32 items aan te skaf, was ’n uitdaging, maar dit is gewis die moeite werd. Daar was 46 palette met 21 produkte vir die pakkies. Uiteindelik weeg die pakkies 17 kg elk. Skole het verlede week die pakkies afgehaal en uitgedeel. “Óf die kinders óf hul ouers moes dan teken vir die kospakkies sodat ons kan verseker die kos gaan aan die regte gesinne.”

Collin Alie, ’n vrywilliger en ’n onderwyser van die Hoërskool Hindle, sê die saak lê hom na aan die hart.

“Hindle is ’n begunstigde van die stigting en het daarom vanjaar vir die eerste keer ’n voedingskema by die skool gehad. Dit maak ’n geweldige verskil vir die leerders en die skool. In gevalle waar ons leerders gehad wat soggens siek geraak het omdat hulle niks gehad het om te eet nie, kry leerders nou ontbyt en middagete,” sê Alie.

Hy vertel die nood is so groot by die skool dat ekstra kos tydens die matriekeksamen gemaak is om te verseker matrikulante mis nie uit op die gratis maaltyd weens hul eindeksamen nie.

“Ons het agtergekom sommige van die kinders woon by hul grootouers, wie se staatspensioen nie ver genoeg strek nie. Ander is weer deel van huishoudings waar kinders aan die stuur is en waar daar nie altyd genoeg is om te eet nie.”

Alie skenk sy tyd vir geleenthede soos die pak van kospakkies en bring altyd ’n paar ekstra hande saam.

Zelda Vergotine, ’n eerste-keer-vrywilliger, sê sy was oorweldig deur die skaal van die bedrywighede, maar sal gewis weer kom help. Sy meen die dag werk was ’n hartverblydende ervaring wat enigeen in die Kersgees sal kry.

Volgens Stevens beoog die stigting om die pakkies vir Paasfees te verdubbel.

“Die nood daar buite is so groot en met die skole wat [vir die vakansie] sluit, verloor die leerders toegang tot hul gereelde maaltye. Ons wil soveel as moontlik kinders deur die vakansietyd help, maar ons het ondersteuners nodig om dit volhoubaar te hou,” sê sy.

Stevens het die stigting in 2011 begin deur drie keer per week ’n koppie sop aan behoeftige kinders van drie skole in Belhar, waar sy gewoon het, uit te deel. Sedertdien bied die stigting ontbyt en middagete aan duisende leerders in die provinsie.

  • Besoek Carmen Stevens Wines by cswines.co.za/products/food-hamper-box-donation om ’n kospakkie aanlyn as donasie te koop.
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.