Wat doen ’n mens met ’n groot ou kroonden wat doodgegaan het?
Afsaag, opsaag en wegry, is een opsie.
Vir Stijdom van der Merwe, die bekende landskapkunstenaar wat in Stellenbosch woon, is dit darem ’n verskriklike verkwisting. Soos hy dit sien is dit eerder materiaal vir ’n kunswerk.
Die stam van een so boom het in die Jan Marais-natuurreservaat gelê. Omdat ek daar betrokke is, het hy my vertel van ’n Switserse beeldhouer, Urs P Twellman, wat moontlik bereid sou wees om ’n kunswerk daarvan te maak, want die “oopmaak” van soliede hout is ’n deurlopende tema van sy werk. Met finansiële ondersteuning wat ek jaarliks van die “Het Jan Marais-Nationale Fonds” vir die verfraaiing van die Jan Marais-reservaat ontvang, het ek vir hom ’n vliegtuigkaartjie gekoop en hom in ’n woonstel van ’n student wat met vakansie was, gehuisves.
Die boomstam is in drie groot stukke gesaag en staangemaak. Twellman het weggespring en oor ’n tydperk van drie weke 270 gate met ’n kettingsaag in die stompe gesaag om as ’t ware “vensters” te skep sodat die donker binnekant van die stompe kan lig kry. Dis een interpretasie; elke kyker moet vir homself sin maak van wat hy sien.
Melwyn Minnaar, die bekende kunskenner, het een keer gesê: “Public art can be beautiful, but it does not have to be. But it must engage the viewer.” Dis wat hierdie kunswerk doen.
Terloops, Twellman was eenkeer by ons aan huis. Hy merk toe ’n stuk hout op met pragtige, vloeiende lyne wat ek langs die see opgetel en op ’n voetstuk laat monteer het. “Ek kan nie beter as dit doen nie,” was sy kommentaar.
Op grond van die aanbevelings van Strijdom van der Merwe is ook twee reusagtige dooie kroondenne langs Cluverweg in kunswerke omgeskep. Die kroon van die bome is bokant die ontspruiting van die takke verwyder, die stomp takke is skerpgemaak en die punte is geverf. Die eerste een as jy van Victoriastraat af langs die JM-reservaat ry, lyk soos ’n reusepotloodhouer met vyf potlode, en die tweede op die manskoshuis Eendrag se grond soos vuurpyle wat gereed is om in alle rigtings gelanseer te word.
Die oranje van die punte is glo Eendrag se kleur.
Agter hierdie boom is ’n mooi koorsboom te sien en tussen die twee bome staan ’n derde wat gereed is om in ’n kunswerk omgeskep te word.
Daar staan ook ’n “potloodhouer” op die hoek van Banhoekweg en Joubertstraat.
’n Vyfde beeldhouwerk uit ’n dooie boom is dié van P.C. Janse van Rensburg en sy suster Anni Snyman langs die reservaat se speelterrein. Dit heet Die Bodi-boom. Die kunstenaars het in die baie ou stomp van ’n omgevalle bloekomboom ooreenkomste met ’n menslike figuur gesien. Die ooreenkoms is met metaalpanele versterk, wat die gesig en hande meer sigbaar maak. Die beeldhouwerk is geïnspireer deur die gedig Nirvana van Breyten Breytenbagh, waarin die Buddah vir dae lank peinsend onder ’n boom verkeer. Dié boom moet nog geplant word om die werk te voltooi.
Terwyl jy in die reservaat is, kyk ook agter Twellman se drie stompe: daar lê ’n slang in die gras – nog ’n klein beeldhouwerk uit ’n dooie boom.
“Iets uit niets” is die duidelik die tema van al hierdie beeldhouwerke.