“Die verslag van die Khampepe-kommissie, met die bevindings en aanbevelings wat in die verslag vervat is, is ’n kantelpunt vir die Universiteit Stellenbosch (US).”
So sê die rektor en visekanselier van die US, prof. Wim de Villiers, nadat hy verlede week die verslag van die onafhanklike Khampepe-kommissie van ondersoek na beweerde rassisme by die universiteit ontvang het.
De Villiers sê met die aanstelling van die kommissie en die gepaardgaande ondersoek het die US hom kwesbaar gemaak en aan moontlike kritiek blootgestel, maar hy beskryf dit as ’n “ontnugterende oomblik” vir die universiteit.
“Met die oog op die toekoms beskou ons hierdie kommissie egter as ’n belangrike belegging in die welstand van ons universiteit. Ons is nou in die proses om die verslag te bestudeer en ons ten volle besig te hou met die bevindings en aanbevelings. Dit is ’n topprioriteit vir die universiteit.
“Dit is duidelik dat swart personeel en studente nie hier welkom voel nie, ondanks ons doelbewuste transformasiepogings tot nou toe. Ons moet nou die werklikheid in die oë kyk dat daar ’n gaping is tussen ons bedoelings wat transformasie-inisiatiewe betref en hoe dit in werking gestel word. Ons sal hard moet werk om ons institusionele ondernemings te belyn met alles wat in die praktyk en op voetsoolvlak gebeur,” sê De Villiers.
Die werk van die onafhanklike Khampepe-kommissie van ondersoek na bewerings van rassisme by die US, onder leiding van die afgetrede regter Sisi Khampepe, het amptelik Maandag 13 Junie ’n aanvang geneem. Die US se leierskap het in Mei vanjaar die onafhanklike eksterne ondersoek na beweerde rassisme by die universiteit aangevra as deel van die US se verbintenis om rassisme en diskriminasie te bestry.
Die kommissie het die ondersoek deur middel van geslote verrigtinge onderneem ten einde vertroue in die ondersoek te skep en om openhartige deelname op ’n breë grondslag aan te moedig.
Die kommissie kon op eie diskresie enige bewyse wat op sy mandaat van toepassing is, ontvang van enigiemand en op enige manier soos bepaal deur die kommissie. Dit het onderhoude, voorleggings en geskrewe voorleggings ingesluit. Die universiteitsgemeenskap is ook uitgenooi om voorleggings in te dien. Die identiteit, ander persoonlike inligting en bewyse of getuies bly vertroulik.
Benewens ’n ondersoek na vorige aangemelde voorvalle, het die kommissie ook die US se kultuur in die geheel ondersoek, sowel as ’n beoordeling en oudit gedoen van die US se beleide, bedryfsprosedures en reaksies.
In die formulering van aanbevelings het die kommissie die voorvalle van rassisme by die US, die huidige stand van diversiteit, billikheid en insluiting in die universiteit se kampuskultuur, met spesifieke verwysing na rassisme en gevolglike vooroordeel, in ag geneem.
Die kommissie het ook daarna gekyk of die huidige strukture van die US en sy beleide, reëls en prosesse voldoende en so doeltreffend moontlik is om studente en personeel se ervarings op voetsoolvlak ten opsigte van rassisme te hanteer, in die lig van die universiteit se benadering van geen verdraagsaamheid teenoor rassisme.
Verbandhoudende kwessies en aangeleenthede wat in die loop van die ondersoek opgeduik het, waaronder die behoefte aan verdere ondersoek of oorweging van verwante sake, is ook in ag geneem.
“Hoewel baie bevindings in die verslag bemoedigend is, is spesifieke denkfoute geïdentifiseer. Daar is baie werk wat voorlê vir die hele US – in die belang van ál ons studente en personeel – in die opregte bedoeling om verwelkomend en inklusief te wees.
“Ons sal die bevindings van regter Khampepe evalueer en aksieplanne in werking stel om die sake te hanteer wat verbeter moet word en aandag moet kry,” sê De Villiers.
Die US sê hy sal verder oor die bevindinge en die gepaardgaande
aksieplanne en die pad vorentoe kommunikeer sodra dit gefinaliseer is.