Minstens twee voertuie, waaronder ’n rooi Jeep Grand Cherokee en ’n vragmotor, is teen Dinsdagoggend in Khayamandi, Stellenbosch, aan die brand gesteek. Dit is onbekend of die voorvalle verband hou met die voortslepende taxi-staking in Kaapstad wat sedert verlede week na Stellenbosch oorgespoel het.
Die Khayamandi-taxivereniging ontken egter ten sterkste dat hulle enigsins betrokke was by hierdie voorvalle van vandalisme.
“Ons mandaat is om ons taxi’s by die staanplek te laat staan en om nie te ry nie. Al wat ons doen is om ander te oortuig om nie mense te vervoer nie, want ons wil hê die regering moet na ons luister. Die brand van vragmotors en motors is nie deur ons nie, nie eens ’n taxibestuurder nie. Terwyl mense in hegtenis geneem word, sal jy nooit ’n taxibestuurder sien nie, ons het belowe om nie by geweld betrokke te raak nie,” het die voorsitter van die Khayamandi-taxivereniging, Theo Mbeshu, gesê.
Die Stellenbosch-polisie het die voorvalle bevestig, maar sê hulle kan nie bevestig of die vandalisme met die staking verband hou nie.
“Ons kan bevestig dat ’n voertuig Maandagaand (7 Augustus) omstreeks 19:05 op die R304 by Khayamandi aan die brand gesteek is. Polisiebeamptes was besig om patrollie te doen by die Khyamandi-taxistaanplek vir verdagte aktiwiteite toe hulle sowat 20 mense by die taxistaanplek sien saamdrom het. Hulle het toe die rooi Jeep Grand Cherokee sien brand en vinnig gereageer,” het die polisiewoordvoerder, kapt. Nathalie Martin, gesê.
Martin sê die polisie het dadelik gereageer, maar is deur die mense met klippe bestook, terwyl die verdagtes tussen die huise deur weggehardloop het.
“Die polisie en wetstoepassers het hulle agterna gesit. Die brand is deur die plaaslike brandweer geblus. Geen beserings is aangemeld nie.”
In die tweede voorval is ’n vragmotor van die Oakely-groepmaatskappy Dinsdagoggend (8 Augustus) omstreeks 10:00 by Khayamandi-sirkel oorkant die taxistaanplek aan die brand gesteek. Die bestuurder het daarin geslaag om te ontsnap en het geen beserings opgedoen nie. Die voorkant van die vragmotor het heeltemal uitgebrand.
Intussen sê die Stellenbosch-munisipaliteit hy monitor alle gebiede om reg en orde te handhaaf.
“Die munisipale wetstoepassing werk saam met die SAPS en ander veiligheidspartye om te verseker enige misdadige aktiwiteit word gestaak en diegene wat verantwoordelik is, word in hegtenis geneem. Reg en orde moet en sal seëvier,” het die uitvoerende burgemeester, adv. Gesie van Deventer, gesê
“Die SAPD, die openbare-orde-polisie (POPS) sowel as die Stellenbosch-munisipaliteit se wetstoepassing- en verkeersdienste werk saam om enige moontlike dade van openbare geweld te monitor.
“Wees asseblief veilig op die paaie en wees ekstra waaksaam wanneer u reis. Indien moontlik, beperk reis. Meld enige voorval van geweld of onrus by ons munisipale beheerkamer aan deur ’n WhatsApp-boodskap na 079 622 4722 te stuur,” het Van Deventer gesê.
Die munisipaliteit doen ’n beroep op inwoners om hulle te weerhou van geweld, die vernietiging van eiendom en enige misdadige aktiwiteite. “Hierdie optrede is onwettig en stel mense se lewe in gevaar.”
Die munisipale woordvoerder Stuart Grobbelaar sê tot dusver is slegs afgesonderde voorvalle van geweld in Khayamandi aangemeld. “Die R304 verby Khayamandi is vir verkeer gesluit en verkeer word deur Cloetesville herlei.”
Die Eikestad Mall het Dinsdag in ’n verklaring aangekondig gewone handelsure is van Dinsdag (8 Augustus) hervat en beklemtoon hul prioriteit is om “die veiligheid en sekuriteit van al ons huurders, inkopiegangers en personeel” te handhaaf.
“Ons monitor voortdurend die voortgaande provinsiale taxi-stakings en is bewus van die beweerde toename in betogings by die taxi-staanplek in Khayamandi. As gevolg hiervan is voorkomende maatreëls by die sentrum ingestel om die veiligheid en sekuriteit van die inkopiegemeenskap te verseker,” lui die verklaring.
Die polisie kon teen druktyd nog nie bevestig hoeveel verdagtes in verband met die voorvalle in hegtenis geneem is nie.