Prof. Pierre Goussard van die US verruil Saterdag sy stetoskoop en witjas vir hardloopskoene wanneer hy die Gornergrat Zermatt-marathon in Switserland aanpak om geld vir mediese toerusting in te samel.

Prof. Pierre Goussard sal Saterdag (5 Julie) wegspring in een van die wêreld se mees uitdagende drafroetes – die Gornergrat Zermatt-marathon in Switserland.

Dié roete van 45 km klim meedoënloos opwaarts deur die Switserse Alpe en eindig op ‘n hoogte van bykans 2 600 m op Riffelberg.

Die meeste hardlopers sal tevrede met hul prestasie wees as hulle net dié uitmergelende bergmarathon kan voltooi.

Vir Goussard is dit net nog ‘n stap in ‘n veel groter missie: om kinders se lewens te red.

As hoof van die eenhede vir kliniese pediatriese pulmono- logie en pediatriese intensiewe sorg by die Tygerberg-hospitaal en die Universiteit Stellenbosch (US), ervaar Goussard die dring-ende behoefte aan gevorderde mediese toerusting eerstehands. Hy en sy span behandel elke dag van Suid-Afrika se mees kwesbare pasiënte – babas en kinders met ingewikkelde respiratoriese toestande, tuberkulose, MIV-verwante komplikasies en lewensgevaarlike longontsteking.

Talle van dié jong pasiënte kom van reg oor Suider-Afrika, aangesien die Tygerberg-hospitaal as ‘n verwysingsentrum vir die streek se mees komplekse gevalle dien.

Sy departement het dringend ‘n Olympus-bronkoskoop nodig – ‘n gesofistikeerde instrument wat dokters in staat stel om die lugweë van babas en kinders wat dodelik siek is, te ondersoek. Gegewe die prys van R400 000, is die toerusting buite die bereik van huidige openbare gesondheidsorgtoewysings.

Aanhou en uithou

Sedert die bekendstelling van sy Given Gain-veldtog het Goussard sowat 11 000 km in oefen-

lopies en wedlope afgelê. Hy betaal ook self vir al die kostes verbonde aan sy deelname.

Hy oefen daagliks en sy lang oefen-sessies oor naweke sluit dikwels afstande van 50 km in. Sy wedloop-geskiedenis lyk soos ‘n wêreldwye uithouvermoë-toer – meer as 50 marathons, insluitend in Parys (vier keer), Berlyn (twee keer), Londen, Rome (drie keer) en Praag, asook ultra-

marathons, soos die Stoos-roete in Switserland.

“Dit was moeilik om mense aan te moedig om geld te skenk – veral met soveel ander veldtogte wat om aandag meeding,” gee Goussard toe.

Ondanks dié uitdagings het hy tot dusver R46 760 ingesamel – ongeveer 12% van sy teiken. Die organiseerders van die Stoos-wedloop in Switserland, waaraan hy twee keer deelgeneem het, het ruim ondersteuning gebied.

Transformerende impak

As hy sy doelwit behaal, sal die impak daarvan transfor-

merend wees. Goussard se span voer jaarliks sowat 350 bronkoskopie-prosedures by die Tygerberg-hospitaal uit. Daarvan hou sowat ‘n derde met TB-gevalle in MIV-positiewe en -negatiewe pasiënte verband, en sowat 25% met chirurgiese ingrepe. In hulpbronbeperkte omgewings waar aansteeklike siektes soos MIV en TB algemeen voorkom, bly die diagnose van toestande by kinders uitdagend.

“Dit bly moeilik om TB by kinders te diagnoseer en dit kan met ander aansteeklike siektes oorvleuel,” verduidelik hy.

Die inaseming van vreemde voorwerpe is nog ‘n kritieke deel omdat die gevalle dikwels in ‘n laat stadium en met hoë komplikasiekoerse aangemeld word, wat die bestuur daarvan sonder behoorlike toerusting uiters moeilik maak.

‘n Nuwe bronkoskoop sal gevorderde tegnieke soos endobrongiale ultraklank (Ebus), radiale Ebus en krioterapie moontlik maak, wat diagnos- tiese én terapeutiese vermoëns drasties sal verbeter. Benewens onmiddellike pasiëntsorg, sal die toerusting die behoefte aan verwysings na hoësorgsale verminder, gesondheidsorgkoste verlaag en opleidingsprogramme vir junior personeel en dokters van oral in Afrika versterk.

Hierdie opvoedkundige aspek lê Goussard veral na aan die hart.

“Ons onderrig baie Suid-Afrikaanse dokters, asook dié van ander Afrika-lande, wat dan hul gemeenskappe kan bystaan wanneer hulle terug huis toe gaan,” sê hy.

As voorsitter van die Tygerberg-hospitaal se Kindertrust verstaan Goussard dat duur mediese toerusting vir dodelike siek kinders dikwels buite standaardbegrotings val. Sy drafveldtog verteenwoordig meer as bloot atletiese prestasie – dit is ‘n kreatiewe oplossing vir ‘n dringende gesondheidsorgbehoefte wat deur persoonlike vasberadenheid en gemeen- skapsondersteuning momentum kry.

Goussard sal die Gornergrat Zermatt-uitdaging die tweede keer aandurf nadat hy dit voorheen in 2022 voltooi het. Maar hetsy hy teen die berg wen of verloor, duur sy groter wedloop voort. Elke kilometer wat hy hardloop, bring hom nader aan ‘n doelwit wat talle jong lewens kan transformeer.

• Besoek die Given Gain-platform by GivenGain om ‘n broodnodige skenking te maak.

Goussard durf fir uitmergelende bergmarathon vir ‘n veel groter missie aan: om kinderlewens te red.

You need to be Logged In to leave a comment.