Vir die 20-jarige Keathan Newman was daar geen twyfel wat hy eendag sou word nie en soos die jare omgegaan het, het hy nooit sy droom laat vaar nie.


’n Kinderdroom om eendag ’n brandweerman te word, het onlangs vir ’n jong man van Stellenbosch waar geword toe hy as ’n volwaardige brandweerman gegradueer het.

Vir Keathan Newman (20) was daar geen twyfel wat hy eendag sou word nie en soos die jare omgegaan het, het hy nooit sy droom laat vaar nie.

“Om ’n brandweerman te wees, is so te sê in my bloed – my pa en my oom is brandweermanne en ek het op die Stellenbosch-brandweerstasie se perseel grootgeword. Daar is niks anders in die lewe wat ek so graag wou wees as ’n brandweerman nie,” sê Newman.

Sy liefde vir die brandweer kom uit respek vir die beroep en die manier hoe hulle mense help. “Die adrenalien van die sirenes wat aankom en die ligte van die voertuie het my aandag as ’n klein seuntjie getrek. Ek wou ook opspring en saam met die brandweermanne gaan,” vertel hy.

brandweer

Die adrenalien van die sirenes wat aankom en die ligte van die voertuie het my aandag as ’n klein seuntjie getrek.

“Ek hou van die manier waarop brandweermanne mense help. Dit is ’n baie nederige en edel werk. Om mense se lewe te red is van die grootste eer wat ’n mens ooit kan hê, en daarom is ek lief vir die brandweer.

“Ek het by my oom grootgeword hier op die basis en elke keer wanneer hy uitgegaan het, het ek vir hom opgewag om te hoor wat gebeur het. Ek wou elke detail weet van wat gebeur het.”

Newman was verheug toe die geleentheid oor sy pad gekom het. “Dit is iets wat ek my hele lewe lank wou doen en toe die geleentheid kom, het ek dit met alles aangegryp. Ek doen al vir jare vrywillige werk by Stellenbosch-brandweer en ek hoop om eendag hier permanent in diens te wees,” sê Newman wat tans op kontrak by die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit se brandweerstasie werk.

Brandweer

Sy liefde vir die brandweer kom uit respek vir die beroep en die manier hoe hulle mense help.

Sy boodskap aan jongmense wat drome vir die toekoms het, is om te volhard in jou drome. “Wees gedissiplineerd, selfdissipline is baie belangrik om jou drome te bereik. Moenie omgee oor wat ander van jou droom dink nie, dit is joune en net jy kan dit maak werk. Doen alles in jou vermoë om daarby uit te kom en streef daarna om beter te doen.”

You need to be Logged In to leave a comment.