Die Tygerberg-kinderkoor bied Sondag (21 April) sy eerste konsert vir die jaar in die Endler-saal in Stellenbosch aan.
Die konsert is ’n gebruiklike geleentheid op die kalender van die befaamde koor, waar hulle ook vriende, oftewel ander kore, uitnooi om die geleentheid besonders te maak.
Die gehoor sal ook deur vyf ander kore betower word, met ’n massakoor aan die einde van die program. ’n Nuwe vriend van die Tygerberg-kinderkoor is die Laerskool Eikestad-koor, wat deur Marlie Katzke begelei word. Die ander kore wat sal optree is die kore van die Hoër Meisieskool La Rochelle, Pinehurst Primêr, Rustenburg Girls’ High School en Goodwoord Park Primêr. Al hierdie kore het tans of in die verlede lede van die Tygerberg-kinderkoor gehad.
Die ander gaskunstenaars is 8 Misses Croon, wat bestaan uit ses Tygerberg-kinderkoor-alumni. Drie van die groepe se lede is deel van die koor se musiekpersoneel.
“Hulle is ’n voorbeeld dat jy steeds kan sing jare nadat jy die Tygerberg-kinderkoor verlaat het, dat dié koorlede lank vriende bly en dat die grondslag wat in die kinderkoor en skoolkore gelê is, in musiek voortleef,” sê Karina Erasmus, die Tygerberg-kinderkoorleier.
Die kinderkoor beklee tans topposisies in die Interkultuur-wêreldranglys van kore.
- Die konsert begin om 16:00. Kaartjiepryse beloop R170 elk; bespreek jou plek aanlyn deur Webtickets.