Die groep minderjariges wat by ’n Klapmuts-verkeerslig bedel, kwel motoriste steeds.
Dit is reeds amper twee jaar sedert die kwessie die eerste keer onder die owerhede se aandag gebring is toe die Klapmuts Farm Watch dit in April 2022 aan die Stellenbosse wetstoepassings-eenheid gerapporteer het.
Intussen het die aantal minderjariges by dié verkeerslig vermeerder, en bedel tot 11 kinders op ’n keer by motoriste se vensters.
Dit is teenoor die sewe wat verlede maand getel is en waaroor Eikestadnuus in Februarie berig het, en ’n nóg groter sprong van die een of twee wat in April 2022 aangemeld is (“‘Moenie kinders kosgee’”, 29 Februarie).
Volgens Erica de Villiers, woordvoerder van die Klapmuts Farm Watch, is dié probleem die eerste keer in 2022 aangemeld, en nie in Oktober 2023, soos die Klapmuts-polisie in die vorige berig beweer het nie.
“Wetstoepassing kom darem elke keer uit as ons [Klapmuts Farm Watch] hulle bel, maar die kinders hardloop weg as hulle die wetstoepassing [motors] sien, dus word hulle nie gevang nie,” sê De Villiers.
Sy sê ook die probleem hou al hoe meer gevaar in, met motoriste wat reeds deur die minderjariges geteiken is toe hul vensterruite met stokke geslaan of met klippe gegooi is. Vragmotors wat druiwe vervoer, loop ook deur wanneer die minderjariges opklim om van die druiwe te steel.
Só ’n geval is 14 Februarie 2023 aangemeld. Op 11 Oktober 2023 is een van die ouer minderjariges, sowat 13 jaar oud, volgens De Villiers raakgery en hy moes mediese hulp ontvang.
“Dit is net ’n kwessie van tyd voordat iemand regtig seerkry,” sê De Villiers.
Volgens haar vrees die plaaswag dat onskuldige motoriste in die slag gaan bly wanneer hulle per ongeluk ’n minderjarige beseer of doodry.
“Hulle [die minderjariges] is nie daar vir kos nie – hulle wil geld hê.”
Volgens De Villiers het sy gesien hoe ’n motoris ’n papiersakkie met kos in vir ’n minderjarige gee, wat hy toe neergegooi het.
Dit lyk asof volwassenes die minderjariges dophou en hulle aanmoedig om te bedel vir geld, terwyl die volwassenes onder die bome op die sypaadjie sit en toekyk.
Dit is nie duidelik wat dan met die geld gekoop word nie, maar die feit bly staan, volgens De Villiers, dat die volwassenes die kinders gebruik vir hul eie gewin.
Sy verduidelik ook dat die minderjariges dikwels toeriste teiken met die “R20, R50 of R100-note” en het hulle die gebied waar hulle bedel, uitgebrei tot by die verkeerslig naby die Potbelly-winkel.
De Villiers wil weet watter entiteit veronderstel is om vir dié probleem verantwoordelikheid te neem omdat beide die departement van maatskaplike ontwikkeling (DSD) asook die Klapmuts-polisie nie die probleem onder beheer kan bring nie.
“Omdat hulle minderjarig is, word hulle deur die wet beskerm en kan hulle nie in hegtenis geneem word nie.”
Voglens Esther Lewis, ’n woordvoerder van die DSD, is “alle kinders intussen geïdentifiseer, risikobepalings is voltooi en kontak is met hul gesinne gemaak”.
“Sommige kinders is in ’n kinder- en jeugsorgsentrum opgeneem, terwyl ander nog op plasing wag.”
Die kommentaar vanaf DSD blyk immers teenstrydig te wees met dié van die Klapmuts Farm Watch en ander ooggetuies wat steeds die minderjariges daagliks by die verkeersligte sien staan.
Eikestadnuus het verlede Woensdag (27 Maart) by die Klapmuts-polisie navraag gedoen, maar teen druktyd is geen terugvoering ontvang nie.