Die handjievol kinders van die JES Montessori-kleuterskool het verlede week hul nuwe Montessori-klaskamer amptelik met groot opgewondenheid op die Le Arc Berries-plaas in Wemmershoek geopen.
Groot glimlagte was Vrydag (1 Augustus) te sien toe die droom van ‘n klaskamer, wat ingestel is om leerders te help met selfgerigte leer en onafhanklikheid, danksy ‘n belegging deur die Six33-stigting bewaarheid is.
Volgens Charlene Elliott, skoolhoof van Six33-stigting Learning Tree, was dit ‘n lang pad met talle rolspelers wat gehelp het om die leerders hoop en vaardighede vir die toekoms te bied.
“Ons vier nie vandag net ‘n gebou nie, maar ‘n droom wat met liefde, gebed en deursettingvermoë ‘n werklikheid geword het. Hier word saadjies van hoop geplant. Die klaskamer is nou ‘n plek van veiligheid, liefde en God-gebaseerde onderrig en ons is so geseënd,” sê Elliott.
Sy voeg skertsend by sy en die span is reeds besig om vir die volgende vyf jaar te beplan, wat hopelik nog Montessori-klaskamers in plaasgemeenskappe sal vestig.
Die agt leerders en hul juffrou, Chevonne Pietersen van die kleuterskool op Le Arc, het Vrydag ouers en besoekers in hul klas verwelkom en met hul legkaarte, leeshoekie, poppehoekie en ander apparate gespog.
Michaela Swarts, van die nabye Môrelig-plaas, sê haar klein Cayden (3) was dae lank opgewonde oor die bekendstelling van die klaskamer en het gereeld daaroor gepraat.
Natasha Fortuin, ook van Môrelig, se Jadelyn (5) is lief vir speel en sing by die skool. Sy meen die nuwe klaskamer is gewis ‘n aanwins vir haar dogter en haar klasmaats.
Dr. Ivan Meyer, die LUR van landbou, ekonomiese ontwikkeling en toerisme, het by monde van Petro du Plessis vertel hoëgehalte voorskoolse onderrig is nie ‘n luuksheid nie, maar eerder ‘n noodsaaklikheid om die volgende geslag te bemagtig.
Volgens Johan le Roux was die leerders se ou klas naby sy huis op die plaas en hy sal gewis hul stemme vroegoggend mis. “Die opgradering was ‘n behoefte wat ons saam met die plaasgemeenskap en die ouers identifiseer het. Boerdery, wat beide na die gemeenskap sowel as die mense op die plase omsien, is vir ons as onderneming uiters belangrik. Ek vertrou hierdie nuwe fasiliteit sal ‘n liefde en vreugde vir leer onder die kinders kweek,” vertel hy.
Elliott het al die betrokke rolspelers, insluitend die Drakenstein-munisipaliteit, vir hul bydraes bedank.


