Kinders laat die speke sing

, ,

Nadat ‘n groep kinders van Idasvallei nuwe fietse as skenking ontvang het, het hulle Saterdag (17 Mei) op dié tweewielers die pad gevat. Die fietsryers, verbonde aan Idasvallei-gemeenskapsroetes, het die […]

Kinders van die Idasvallei-gemeenskapsroetes se fietsry-program neem hul nuwe fietse in ontvangs. By hulle is, agter van links, Sewela Makgalo, Noxolo Luwaca, Liesle Petersen, die raadslid James Williams, Vuyokazi Solani, die raadslid Roy Benjamin van Rooyen en die distriksmunisipale raadslid Gideon Carinus. Foto: Yaël Malgas

Nadat ‘n groep kinders van Idasvallei nuwe fietse as skenking ontvang het, het hulle Saterdag (17 Mei) op dié tweewielers die pad gevat.

Die fietsryers, verbonde aan Idasvallei-gemeenskapsroetes, het die afgelope naweek saam met verskeie rolspelers by die plaaslike sportterrein vir die agtste jaarlikse wêreldwye padveiligheidsweek byeengekom om meer oor padveiligheid te leer en 10 nuwe fietse in ontvangs te neem. Die nuwe fietse en al die bybehore, insluitend helms, is deur die Pedal Power-vereniging geborg.

Nina September, die waarnemende direkteur van die departement van gemeenskapsveiligheid, het daarop gewys dat ‘n kwart van alle padsterftes wêreldwyd voetgangers en fietsryers is.

”Padongelukke is een van die hoofoorsake van sterftes en gestremdhede onder jongmense ter wêreld. Dit eis ‘n veiliger infrastruktuur vir voetgangers en fietsryers en sluit aan by die skuif na nie-gemotoriseerde vervoer wat meer koste-doeltreffend, gesonder en groener vir die hele samelewing is,” sê September.

Sy het ook die jong fietsryers gemaan om ander padgebruikers te respekteer, altyd op hul hoede te wees en om altyd vir ander padgebruikers op die pad sigbaar te wees.

Die jongfietsryers spog met hul nuwe fietse wat amptelik deur van die rolspelers oorhandig is. Foto: Yaël Malgas

Gepaste raad – veral omdat die afgelopeses maande 17 padongelukke in die Stellenbosch-gebied aangemeld is, aldus Liesle Petersen, senior superintendent van Stellenbosch se verkeersdepartement. Volgens haar is die belangrikste veiligheidsreël dat die fietsryers alle padreëls nakom.

Die Idasvallei-gemeenskapsroetes is in 2020 deur Eon Hendricks begin. Sedertdien het die organisasie verskeie skoonmaakprojekte, werkskeppingsgeleenthede en toerisme-inisiatiewe aangepak. Vir Hendricks is die fietsry-groep ‘n hoogtepunt.

”Ek het self destyds op my fiets skool toe gery. My oupa het sy fiets op sy dag as vervoermiddel gebruik. Ons doel is om ‘n liefde vir fietsry by jongmense te kweek en om hulle hopelik meer geleenthede te bied, danksy die feit dat hulle fietsry,” sê hy.

Benewens die naskoolse en vakansieprogram om kinders op ‘n fiets te hou, eerder as om in die strate rond te loop, neem die fietsryers gereeld aan kompetisies deel. Van die ryers het ook binnekort die kans om aan proewe deel te neem, wat hulle ‘n beurs vir die Hoërskool Stellenbosch kan besorg.

Roy Benjamin van Rooyen, die plaaslike wyksraadslid, het Hendricks en die kinders sterkte toegewens met hul program en gesê hy glo hulle is die fietsry-kampioene van die toekoms. “Een van die dae is julle deel van die uitgesoekte groep wat aan die Cape Epic-fietstoer, wat jaarliks hier in die Wynlande plaasvind, sal deelneem.”

• Volg Idas Valley Community Trails op sosiale media vir meer oor die program.

Eon Hendricks wat aan die stuur van die fietsry-program is. Foto: Yaël Malgas

You need to be Logged In to leave a comment.