Kinders nou meer vatbaar vir diarree

Die tydperk waarin daar ’n toenemende hoeveelheid kinders diarree opdoen, is onderweg, en die provinsiale departement van gesondheid en welstand maan ouers en versorgers om voorsorg te tref om kinders te beskerm teen diarree.


Die tydperk waarin daar ’n toenemende hoeveelheid kinders diarree opdoen, is onderweg, en die provinsiale departement van gesondheid en welstand maan ouers en versorgers om voorsorg te tref om kinders te beskerm teen diarree.

Diarree kan voorkom en behandel word. By gesondheidsfasiliteite kan diarree en ander siektes wat kinders raak, gediagnoseer en behandel word.

Van November tot Mei elke jaar word ’n toenemende hoeveelheid gevalle van diarree en longontsteking by gesondheidsfasiliteite opgemerk – veral wanneer dit by kinders jonger as vyf jaar kom. Die Kaapse Wynlande het reeds baie warm dae ervaar; tydens baie warm dae is dit belangrik dat almal genoeg skoon water drink en dat jy so ver as moontlik in die skaduwee of in koel areas bly.

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie is diarree die tweede grootste oorsaak van sterftes in kinders onder vyf jaar. In 2019 het 370 000 kinders wêreldwyd weens die impak van diarree gesterf.

Oorsake en voorkoming

Diarree kan ’n paar dae voortduur en kan die liggaam van water en soute, wat belangrik is vir oorlewing, ontneem. Diarree is dikwels ’n teken van infeksie. Dit versprei deur gekontamineerde kos of drinkwater, of van persoon tot persoon weens swak higiëne.

Diarree is uiters aansteeklik en dit floreer in warm weersomstandighede. Kinders wat ondervoed is, wie se immuniteit onderdruk is of wie immuniserings of Vitamiene A-aanvullings gemis het, is meer geneig om diarree te kry, en kan baie siek word as hulle nie behandeling kry nie. Ouers en versorgers moet toesien dat jong kinders hul immuniserings en Vitamiene A-aanvulling kry.

“As ouers besef ons nie altyd die belangrike rol wat goeie voeding en immunisering daarin speel om jong kinders gesond te hou nie,” sê dieetkundige Adriane Petersen van die gesondheid en welstand-departement in die Kaapse Wynland.

“Onthou, gee slegs borsmelk vir jou baba in die eerste ses maande. Daarna kan jy begin om vaste kos in te sluit. Wanneer dit baie warm is, kan jy jou baba help om gehidreer te bly deur meer gereeld te borsvoed. Maak ook seker jou kind is geïmmuniseer. Immunisering en Vitamiene A-aanvullings help jou kind groei en gesond te bly.”

Daar is stappe wat jy kan neem om jou kinders teen diarree te beskerm, soos om gereeld hande te was. Virusse kan versprei word deur onhigiëniese hande. Leer jou kinders om hande te was nadat hulle die toilet gebruik het, asook voor en ná etes. Dit is ook belangrik om babas se bottels en als wat tydens voeding gebruik word, te steriliseer.

Weens die warmer weer kan kos makliker sleg word. Dit kan lei tot diarree en uiteindelik ontwatering. Was jou hande, hou die oppervlaktes in die kombuis skoon, asook alles wat jy gebruik terwyl jy kosmaak. Ontsmet ook gereeld die toilet.

Hou vullisdromme se deksels toe, sorg dat diere se uitwerpsel weggegooi word. Stukkies afval kos, gebruikte doeke en sanitêre doekies moet in ’n plastieksak gegooi en toegeknoop word, voordat dit in die vullisdrom gegooi word. Was jou hande ná hierdie take.

Tekens dat jou kind hulp nodig het

Diarree kan jou kind se risiko vir ontwatering verhoog, weens die los of waterige stoelgange en braking. As jou kind diarree kry, let op hierdie tekens van ontwatering:

• ’n droë, klewerige mond;

• min of geen trane wanneer die kind huil;

• min uriene, of net ’n klein hoeveelheid donkergeel uriene;

• droë, koel vel;

• moegheid of geïrriteerdheid;

• duiseligheid;

• hoofpyn of maagpyn; en

• moegheid.

As jou kind van hierdie simptome van ontwatering het, of jy is bekommerd, gaan na jou naaste kliniek, of na-ure na die hospitaal. Moenie in die ry staan nie, maar gaan dadelik na ontvangs of ’n gesondheidswerker en sê vir hulle jou kind het diarree en is dalk ontwater.

Jy kan ook tuis die suiker-sout-oplossing aanmaak en vir jou kind slukkies daarvan gee om ontwatering te voorkom. Gebruik ’n skoon waterbottel. Meng ’n liter gekookte water wat afgekoel het met ’n halwe teelepel sout, en agt teelepels suiker. Meng goed.

Om gesinne te ondersteun word plastiekbottels vir hierdie doel versprei. In die Kaapse Wynland word meer as 22 600 bottels versprei. Neem dit saam met jou wanneer jy die kind kliniek toe neem sodat jou kind nie op pad na die kliniek ontwater nie. Hou ook aan om melk en kos vir jou kind aan te bied.

Let ook op die tekens dat jou kind dadelik mediese sorg nodig het. Dit sluit in:

• vinnige asemhaling (’n simptoom van longontsteking en diarree);

• borskas-insinking;

• as jou kind niks wil drink of eet nie, of alles uitbraak;

• stuiptrekkings;

• as jou kind swak is en net voor hom uit staar;

• as daar bloed in die stoelgang of doek is; of

• as jou kind baie lomerig is en sukkel om wakker te word.

Moenie huiwer om hulp te kry as jou kind van hierdie waarskuwingstekens toon nie. Gaan onmiddellik na jou naaste gesondheidsfasiliteit of bel die ambulans by 10177.

Vir meer inligting, besoek gerus www.westerncape.gov.za/first-1000-days.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.