Daar was geen keer aan die atlete wat Vrydag (5 Julie) aan Stellenbosch se eie “Olimpiese Spele” deelgeneem het nie.
Die e’Bosch-erfenisprojek, in samewerking met verskeie rolspelers, het die afgelope skoolvakansie kinders van Stellenbosch se 14 dorpies met allerhande projekte besig gehou.
Die program is van Maandag 17 Junie tot Saterdag 6 Julie aangebied.
Vanjaar se program fokus op die Olimpiese Spele en sy waardes – uitnemendheid, respek en vriendskap.
Netbal, skaak en sokker was Vrydag by die Jamestown-sportterrein aan die orde van die dag.
Wêreldlande is deur die verskeie dorpies deur die plaaslike jongspan “verteenwoordig”.
Jamestown was Amerikaners vir die kompetisie terwyl Khayamandi se kinders Indië verteenwoordig het.
Ten spyte van die modderige, nat dag het die spanne hul alles gegee om koning te kraai.
Die groot wenners van die dag was: o.12-sokker – Stellenbosch-sentraal (Columbia), o.15-sokker Idasvallei (Brasilië), o.17-sokker Jamestown (VSA).
In die netbal het die meisies van Idasvallei, wat Brasilië verteenwoordig het, die o.12-afdeling gewen, met Klapmuts (Botswana) wat die o.15- en o.17-afdelings gewen het.
Limi Menta (Khayamandi) was die top-skaakspeler.