Nóg klagtes het ingestroom oor die informele nedersetting buite Klapmuts oorkant die stortingsterrein en skuins oorkant die polisiekantoor, ook duidelik sigbaar van die N1 af.
Inwoners beweer die afgelope weke se styging in misdaad in dié dorp kan aan die weghol-uitbreiding van die nedersetting, wat reeds meer as 80 inwoners het, toegeskryf word. Dit blyk dié informele nedersetting het binne sowat ‘n jaar en ‘n half bykans verdubbel, met Klapmuts-
inwoners – veral diegene in die landelike gebiede rondom die Protea- en Groenfonteinpad – wat erg deur misdaad geraak word.
Volgens ‘n ingeligte bron, wat verkies om anoniem te bly, groei die nedersetting “by die dag” en vind inbrake, wat na bewering aan inwoners van dié informele nedersetting toegeskryf word, “uurliks” in die omgewing van die Protea- en Groenfonteinpad asook in die strate van Klapmuts en agter die polisiekantoor naby die spoorlyn plaas.
Goedere wat die meeste gesteel word, sluit in skrootmetaal, draadomheinings en dakplate, wat vermoedelik gebruik word om die inwoners se strukture en kampe vir hul diere te bou. Ander gesteelde goedere sluit sonpanele, batterye en fietse in. Die bron glo die skerp styging in misdaad kan die werk van ‘n sindikaat wees. Die bron voer ook aan dat die vermeende sindikaat shopping lists uitstuur na die inwoners van die informele nedersetting wat dit dan steel – nie net in Klapmuts nie, maar ook in omliggende gebiede. In party gevalle het die diewe onderdeur betonmure gegrawe om toegang tot eiendomme te verkry.
JC Anthony, wykraadslid, het by ‘n vorige geleentheid aan Eikestadnuus gesê die mense wat op die grond bly, kom uit Kraaifontein en Mbekweni. ‘n Motivering vir hul trek na dié nedersetting is om ‘n plek te kry om te boer.
Klapmuts-inwoners en motoriste kry gereeld bokke en beeste wat langs die Ou Paarl-pad, ofte- wel die R101, met ‘n wagter wei.
Volgens Anthony behoort die vee aan sommige van die onwettige besetters, wat gedurende die dag hul diere op die grasveld langs die polisiekantoor laat wei.
Hy het genoem die Stellenbosch-munisipaliteit het tans “geen beheer” oor die doen en late van die inwoners van die informele nedersetting nie en dit is “hartseer” om dit te sien, omdat dit potensiële ontwikkelings in en om Klapmuts kan belemmer.
Een gebou wat dikwels geteiken en stuk-stuk weggedra word, is ‘n leë skuur op een van BKB se eiendomme langs die Groenfonteinpad.
Inwoners in die gebied het hul ontevredenheid oor dié spesifieke diefstal op sosiale media asook telefonies uitgespreek. Hulle beweer diefstal en soortgelyke voorvalle lok mense na die gebied en inwoners op kleinhoewes en plase in dié omgewing moet met een oog oop slaap om diefstal op hul eiendomme te voorkom.
Volgens die bron word materiaal by die skuur helder oordag gesteel en is die oortreders “nie eens meer bang” vir die polisie of sekuriteit wat patrolliewerk doen nie.
Volgens André du Toit, Pakhouse Brands se hoofbestuurder – een van BKB se sake-afdelings – is BKB bewus van die diefstal en is hy reg om ‘n klagte by die Klapmuts-polisie aan te meld sodra een van die oortreders op heterdaad betrap word. Du Toit het gesê die stoor word sedert Januarie nie gebruik nie, en BKB se korttermynplan is om dié gebou te sloop. Volgens hom is die vlaag inbrake op BKB se perseel die eerste erge geval “in 15 jaar”.
Erica de Villiers, ‘n woordvoerder vir die Klapmuts-plaaswag, sê hulle is bewus van die styging in misdaad en werk saam met die polisie om die probleem hok te slaan.