Die lewe van ’n 34-jarige man is Saterdag 20 Augustus in Mandela City in Klapmuts in ’n skietvoorval geëis.

Sers. Bernadene Arendse, ’n woordvoerder van Klapmuts-polisie, sê een van hul beamptes het die klagte omstreeks 19:13 ontvang.

Met die polisiebeampte se aankoms op die toneel het sy die oorledene dood in sy slaapkamer met skietwonde aan sy liggaam aangetref. Die man se vriendin is glo ook in die skietvoorval gewond.

Volgens die vriendin en ’n familielid, wat saam met hom in die huis was, het hulle in die voorhuis gesit toe twee mans aan die deur geklop het. Die mans het vir die oorledene vir ’n rygeleentheid gevra, maar hy het gesê hy kan hulle nie wegneem nie en die mans het die woning verlaat.

“Later het drie gewapende mans by die huis ingestorm en een van die verdagtes het die slaapkamerdeur, waar die oorledene was, probeer oop trap. Die oorledene het probeer om die deur toe te druk, maar een van die mans het op hom begin skiet. Toe die een verdagte klaar die oorledene geskiet het, het hy teruggekom na die ander twee verdagtes en gesê hy het alles afgehandel. Een van die ander verdagtes het gaan seker maak dat die oorledene regtig dood is en het verder op hom geskiet,” vertel Arendse.

Die verdagtes is onbekend aan die ooggetuies wat in die huis was. Niemand is tot dusver in verband met die voorvalle in hegtenis geneem nie.

. Die Klapmuts-polisie doen ’n beroep op enigiemand met inligting oor die voorval om na vore te kom. Die ondersoekbe­ampte sers. Derick Pietersen kan by 079 894 1769 of 021 875 8016 gebel word.

You need to be Logged In to leave a comment.