Klapmuts het sy eie beskermengel wat haar genesende hand na almal in die gemeenskap uitreik om hulle te help versorg.
Veronica Galant (46) dra baie hoede in dié klein gemeenskap.
Sy is ’n ma en ’n eggenote en dien ook as onder-voorsitter vir die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum.
Sy help inwoners wat swaarkry of ’n geliefde verloor het deur emosionele ondersteuning te bied en gedenkdienste te help reël.
Sy bestuur ook haar eie organisasie sonder winsbejag, Victory Injury Care Foundation.
Buiten dit handhaaf sy ook ’n voltydse werk sodat sy geld in haar organisasie kan inploeg om ander in nood by te staan.
Galant is in 2019 bekroon as “protea of the valley” – ’n toekenning wat vroue in die Wynland vir hul invloed in hul onderskeie gemeenskappe vereer.
Omdat sy self swaar grootgeword het – aan die ander kant van die berg naby Rawsonville – wil sy seker maak waar sy ’n hand kan bysit en ’n lewe kan red, sy wel so doen.
Galant is ’n gekwalifiseerde verpleegster en haar geregistreerde Victory Injury Care Foundation, wat sy reeds in 2015 begin het, fokus op gratis genesing van onder meer brandwonde en steekwonde.
Sy finansier dit uit haar eie sak.
“Dit is vir my baie belangrik om iemand se lewe te red en seker te maak dat daar veral na kinders omgesien word,” sê sy.
Maandeliks sien sy na tussen ses en sewe pasiënte om, waarvan die meerderheid van Klapmuts is, maar sal “as die nood druk” ook na Paarl reis.
Mense kom ook gereeld van ander provinsies na Klapmuts om Galant se gratis versorging te ontvang.
’n Onlangse voorbeeld is ’n man van Williston in die Noord-Kaap wat ’n ernstige brandwond opgedoen het en al die pad na Klapmuts gereis het nadat die plaaslike staatshospitaal nie die septisemie wat hy ontwikkel het, onder beheer kon kry nie.
Galant het haar pasiënt in ’n japtrap genees, waarna hy weer terug is na Williston – met ’n gesonde vel.
“Ek behandel mense asof hulle my eie familie is,” verduidelik Galant en sê sy sal nooit iets terug verwag nie.
Galant sal nie sommer vra vir finansiële bydraes nie omdat dit nie in haar “geaardheid” is nie.
- Indien iemand wel ’n skenking wil doen, nog inligting of mediese hulp benodig, Skakel Galant by 078 604 4581.