Al drie die diertjies wat glo Saterdag 4 Oktober deur ‘n vrywilliger van die Exotic Animal World Klapmuts gesteel is, is veilig “terug by die huis”.
Dit volg nadat ‘n vrou wat by die sentrum, voorheen bekend as Butterfly World, betrokke was, na aanleiding van haar omgewingsverrykingsprogram blykbaar gedink het sy kon drie frette “ ’n beter lewe gee”.
Die personeel is geskok deur die vrywilliger se optrede, aangesien die sentrum die afgelope drie dekades nog nie ‘n soortgelyke voorval gehad het nie.
Die sentrum spesialiseer as ‘n toevlugsoord vir onder meer spinnekoppe, ape, slange en voëls wat of deur hul eienaars oorgegee is of deur plaaslike owerhede afgevat en in die sentrum se sorg geplaas is.
Volgens Esther Van der Westhuizen, die eienaar van die sentrum, het hulle ‘n paar minute nadat die vrywilliger huis toe is, besef die frette is weg.
SOEKTOG NA DIERTJIES
Die personeel, wat besig was met inleidings aan besoekers tussen die sessies met die diere, het haar toe geskakel om te vra of sy die frette van een hok na ‘n ander geskuif het. Sy het toe gebieg sy het die diertjies geneem en die hasepad gevat.
“Frette is op CapeNature se swartlys en mag nie as troeteldiere in die provinsie aangehou word nie. Hulle is klein, maar wrede roofdiere en het die vermoë om ‘n vernietigende indringerspesies te wees, soos in Nieu-Seeland, waar hulle kleiner diere wat hulle as prooi jag, uitwis,” verduidelik Van der Westhuizen.
Die sentrum het onmiddellik na die vrou begin soek.
‘n Klagte is aanvanklik by die Klapmuts-polisie weens die diefstal aangemeld en is intussen na die eenheid vir bedreigde spesies en veediefstal in Kuilsrivier oorgeplaas.
AO André van Greunen van dié betrokke eenheid het gehelp om die frette op te spoor.
Van der Westhuizen sê hoewel die vrywilliger aanvanklik gesê het een van die diertjies is in haar sorg oorlede, het die personeel haar nie geglo nie en al drie frette is gevind.
LEES OOK: Eksotiese dier van Klapmuts dood na vrywilliger dit huis toe vat.
Die frette is die afgelope Maandag (13 Oktober) aan die sentrum terugbesorg.
“Eksotiese diere kan enigiets van papegaaie en slange of tarantulas en visse wees. Die diere is vrylik by troeteldierwinkels beskikbaar.
“Die probleem is dat sommige eksotiese diere, wat as troeteldiere beskikbaar kan wees, dalk nie in die provinsie aangehou mag word nie. Die spesies kan moontlik ‘n indringerspesie word, of dit is skaars en beskermde spesies.
“Baie diere word onwettig in die provinsie aangehou – hulle is óf op die swartlys en is dalk glad nie in die provinsie nie, óf hulle word sonder die nodige permitte aangehou.
“Ons fasiliteit het van tyd tot tyd diere waarop beslag gelê is, ontvang om hulle veilig te bewaar terwyl hofsake aan die gang is.”
‘KAN VERVOLG WORD’
Diere wat uit onkunde verkeerdelik na omgesien word, kan siektes soos diabetes en orgaanversaking weens wanvoeding ontwikkeling.
Van der Merwe sê hulle het baie diere oor die jare ontvang wat goed versorg is, maar weens onkunde probleme ontwikkel het.
“Ons sal nooit aan mense sê om nie ‘n spesifieke dier as troeteldier te hê nie, maar om 100% seker te maak hulle weet wat die toekoms van daardie dier in hul sorg sal wees. Ons sê gewoonlik vir besoekers dat daar duisende katte en honde in skuilings is – neem eerder een van hulle aan.”
Mense wat misdrywe teen beskermde of eksotiese diere pleeg, kan vervolg word.
CapeNature het vandeesmaand die uitspraak teen Gustigu Mthini (38) verwelkom nadat hy in Februarie ‘n gevlekte ooruil, ‘n beskermde spesie, op die Seepunt-promenade met ‘n stok gemartel het.
LEES OOK: Cape Town welfare groups welcome owl killer’s conviction
Mthini is in September deur in die Kaapse landdroshof skuldig bevind aan dieremishandeling, die jag van ‘n bedreigde spesie en onwettige jag deur middel van ‘n verbode jagmetode. ‘n Vierde aanklag teen hom het met immigrasie-oortredings te doen gehad.
Mthini is met ‘n boete van R12 000 of 12 maande tronkstraf gestraf.
“Hierdie skuldigbevinding stuur ‘n sterk boodskap uit – dat die onwettige en wrede behandeling van ons wildlewe nie geduld sal word nie. CapeNature bly daartoe verbind om nou saam met ons vennote te werk om te verseker dat oortreders aanspreeklik gehou word. Elke dier het ‘n rol in die handhawing van die balans van ons ekostelsels om te speel,” het dr. Ashley Naidoo, die hoof van CapeNature, gesê.
Die plaaslike sentrum het intussen besluit om nie sy vrywilligersprogram te sluit nie.
“Aanvanklik het ons ‘n skok-reaksie gehad waar ons die programme wou kanselleer, maar dit is die eerste keer in 30 jaar dat so iets gebeur. Boonop is ons jongvrywilligers-program doeltreffend en werk dit sonder enige probleme, dus sal ons nie daaraan raak nie. Ons sal net beter beheer instel om ‘n herhaling te voorkom,” sê Van der Westhuizen.
Sers. Madilyn Dombas, ‘n woordvoerder vir die Klapmuts-polisie, bevestig niemand is in verband met die saak in hegtenis geneem nie en die saak word steeds ondersoek.
- Om omgewingsmisdaad met betrekking tot wilde diere aan te meld, bel die die 24-uur- tolvrye voorvallyn by 0800 205 005 of stuur ‘n e-pos aan [email protected] of [email protected].


