Justin Limco, Nathan Niewenhuis en Zane Marthinus van Klapmuts, wat blykbaar ’n negejarige aangerand het, het verlede Donderdag (23 Mei) weer in die Paarlse streekshof voorgekom – elk op vier aanklagte, naamlik ontvoering, poging tot moord deur middel van elektriese skok, poging tot moord deur middel van verdrinking en poging tot moord deur middel van aanranding. Die voorval, wat op video vasgevang is, spruit uit ’n onderonsie tussen die drie mans en die minderjarige. Hulle het hom daarvan beskuldig dat hy R600 by hulle gesteel het. Die voorval het blykbaar Donderdag 25 Januarie plaasgevind. In die video kan gesien word hoe drie mans die minderjarige deur middel van oorleikabels skok, in ’n munisipale vullisdrom gooi en hom probeer verdrink deur water in die drom te tap. Die saak is tot Donderdag 4 Julie uitgestel.