Slaggate in Klapmuts se hoofpad, of te wel die Ou Paarl-pad.

Jana Scheepers

Klapmuts is vir baie motoriste bloot ’n halfpadmerk of stopplek om brandstof in te gooi of ’n koffie te koop, maar vir ’n groot aantal mense is dit ook ’n tuiste en ’n plek wat hulle elke dag aanskou.

Nietemin suig dié dorp aan Eskom en die provinsiale departement van infrastruktuur se agterspeen en laat veel te wense oor vir inwoners en besoekers.

Stellenbosch

Slaggate in Klapmuts se hoofpad, of te wel die Ou Paarl-pad.

Die hoofstraat, ofte wel die Ou Paarl-pad, wat verby die Shoprite-sentrum en die polisiekantoor loop, het tans verskeie slaggate in die linkerbaan (aan die polisiekantoor se kant) vanaf die stroom tot net voor die Klapmuts-stortingsterrein, terwyl die meeste lamppale in dié straat ook nie skyn nie – selfs wanneer beurtkrag nié toegepas word nie.

Volgens JC Anthony, raadslid van wyk 18 in Klapmuts, is die Stellenbosch-munisipaliteit bewus van die dorp se uitdagings, maar kan slegs met die “toestemming van die provinsiale regering” die nodige instandhoudings-werk aanbring omdat die hoofpad aan die Wes-Kaapse departement van vervoer en openbare werke behoort, terwyl die straatligte aan Eskom behoort.

Zinhlezonke Zikalala, ’n woordvoerder van die Stellenbosch-munisipaliteit, het bevestig die munisipaliteit is bewus van die uitdagings in Klapmuts. Sy verduidelik ook dat hul hande afgekap is omdat die pad en straatligte nie aan die munisipaliteit behoort nie.

Volgens haar sal instandhoudingswerk op die hoofpad wel geskied wanneer die reën opklaar.

“Eskom word in kennis gestel [van die straatligte] sodat die munisipaliteit toegang kan kry om die nodige instandhouding te doen. Ons [Stellenbosch-munisipaliteit gaan] voorsien dat die ligte binne die volgende week herstel sal word.”

Protea-weg buite Klapmuts, wat ook deur die provinsiale departement van vervoer en openbare werke bestuur word, is luidens inwoners ook ’n bron van kommer. 

Proteaweg word grotendeels deur plaasvoertuie gebruik, het Jandre Bakker, woordvoerder van die departement van vervoer en openbare werke, verduidelik.

Volgens inwoners is die grondpad gereeld in ’n slegte toestand, veral oor die wintermaande, met “honderde slaggate” wat veroorsaak dat motors tot sowat “10 km per uur” moet ry.

Bakker het verduidelik die pad word teen gemiddelde tussenposes van “elke 27 dae” geskraap.

Volgens hom het die munisipaliteit ook planne om ’n gedeelte van dié pad te rehabiliteer – van die 5,47 m-merk tot aan die einde van die pad, waar dit by die geteerde Waarburgh-weg aansluit.

“Die projek is tans in [die] tender-evalueringstadium, en as alles volgens plan verloop, behoort dit in die huidige boekjaar te begin,” het Bakker gesê.

Volgens hom word die pad deur die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit (KWDM) in stand gehou, terwyl die Wes-Kaapse regering die padowerheid is. Bakker het nie uitgebrei op presies wat die rehabilitasiewerk sal insluit nie.

Volgens Zikalala is Klapmuts geoormerk as ’n ontwikkelingsgebied, waar paaie en stormwaterdienste in beide kommersiële en residensiële gebiede weldra verbeter en herontwikkel sal word.

“Opgraderings van die Klapmuts-aansluiting, wat bane vanaf die R44 sal byvoeg om die huidige verkeersvloei te verlig, sal ook plaasvind,” het Zikalala gesê.

“Daar sal ook waterinfrastruktuur-opgraderings, herstelwerk en instandhouding wees, asook die opgradering van Klapmuts se waterwerke.”

Nuwe infrastruktuur rakende straatligte sal ook ingebring word sodat die munisipaliteit afhanklik van Eskom kan funksioneer.

’n Stortingsterrein is tans nog in aanbou.

You need to be Logged In to leave a comment.