Klapmuts: skok-saak na hoër hof

Die saak van drie mans wat daarvan beskuldig word dat hulle ’n negejarige seun in Klapmuts aangerand en ontvoer het, is uitgestel tot Maandag 22 April en na die streekhof oorgeplaas.

Nathan Nuuvenhuis (24).Foto: Facebook

Credit: SYSTEM

Die saak van drie mans wat daarvan beskuldig word dat hulle ’n negejarige seun in Klapmuts aangerand en ontvoer het, is uitgestel tot Maandag 22 April en na die streekhof oorgeplaas.

Dít volgens Veronica Galant, voorsitter van Klapmuts se gemeen­skapspolisiëringsforum (GPF).

Justin Limco (21), Nathan Nuuvenhuis (24) en Zane Marthinus (34) word elk deur vier aanklagte in die gesig gestaar, naamlik ontvoering, poging tot moord deur middel van elektriese skokke, poging tot moord deur middel van verdrinking en poging tot moord deur middel van aanranding.

Dit is by Donderdag 8 Februarie se hofverrigtinge in die Paarl-landdroshof bekendgemaak.

Die voorval, wat op video vasgevang is, spruit uit ’n onderonsie tussen die drie mans en die minderjarige, waar hulle hom glo daarvan beskuldig dat hy glo R600 van hulle gesteel het.

Volgens kol. André Traut, ’n provinsiale polisiewoordvoerder , het die voorval Saterdag 27 Januarie plaasgevind. In die hofverrigtinge is egter aangevoer die voorval het Donderdag 25 Januarie plaasgevind.

Volgens die seun se ma het sy eers twee dae later van die voorval gehoor en Sondag 28 Januarie ’n klagte by die Klapmuts-polisiekantoor aangemeld.

Sy het verduidelik haar seun het niks oor die video gesê nie – “seker uit vrees” – en sy het daarvan gehoor toe iemand wat glo tydens die voorval teenwoordig was, haar vertel het.

Hierna word die minderjarige in ’n munisipale drom forseer waar die deksel toegemaak word.

Nadat hy in die drom toegemaak was, was daar ’n tuinslang ingeprop wat water in die vullisdrom gespuit het.

In die video, wat soos ’n veldbrand op sosiale media versprei het en intussen verwyder is, kan gesien word hoe drie mans die minderjarige deur middel van oorleikabels skok.

Die video wys hoe die seun se hande aan ’n staalsaag met plastiek-kabelbinders vasgebind is en daarna met oorleikabels aan ’n Volkswagen Golf se battery verbind word. Daarna word water oor die staalsaag gegooi, waarna die oorleikabels aan die saag vasgeknip word sodat dit die seun skok.

Die marteling duur dan voort toe die seun met ’n gordel geslaan word. Daarna gooi die seun se aanranders hom kop eerste in ’n munisipale drom en probeer hom versmoor nadat hulle die drom se deksel toegemaak het.

Die video eindig waar die drie vermeende misdadigers ’n waterpyp in die drom druk met die doel om die seun te laat verdrink.

Reg deur die video kan gesien word hoe die seun huil en smeek om sy lewe, terwyl omstanders lag.

Volgens die seun se familie ly hy aan skok en sukkel hy om die voorval te verwerk.

Die familie en oortreders woon in dieselfde straat in Klapmuts en is bure. Die seun en sy familie se name word weerhou omdat hy minderjarig is.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.