SPORT: Klapmuts-sokkerspeler mik hoog, op pad na Spanje

’nJong sokkerspeler van Klapmuts vertrek eersdaags na Madrid, die sokkerhoofstad van Spanje, waar hy sy talente voor van dié land se top-sokkerkenners ten toon sal stel met die hoop dat hy ’n kontrak sal losspeel.


’nJong sokkerspeler van Klapmuts vertrek eersdaags na Madrid, die sokkerhoofstad van Spanje, waar hy sy talente voor van dié land se top-sokkerkenners ten toon sal stel met die hoop dat hy ’n kontrak sal losspeel.

Rheado Kipido (18) sal Maandag 4 Desember saam met BT Football Recruitment Agency, onder leiding van Brandon Timmy, na die Spaanse hoofstad vertrek. Dit volg op die hakke van sy besoek aan Dallas, Texas, as deel van Ikapa United in April 2022 (“Rheado sprei sy sokkervlerke”, Eikestadnuus, 7 April 2022).

Dié talentvolle doelskieter was toe die enigste inwoner van die Kaapse Wynland wat lid was van die Ikapa-span wat aan die Annual International Football Youth-toernooi deelgeneem en die drie weke toer meegemaak het. Hy het toe vertel dat hy droom om eendag vir FC Barcelona in Spanje uit te draf.

Dis nou nie Barcelona wat dié Hoërskool Cloetesville-leerder sal besoek nie, maar Rheado sal wel besienswaardighede in dié beroemde stad sien, soos die gewilde Santiago Bernabeu-stadion, die tuisveld van Real Madrid en Athletico Madrid.

“Ek is baie opgewonde oor die reis; dis regtig ’n droom wat waar word. Ek wou nog altyd Spanje, die tuiste van my gunstelingspan, FC Barcelona, besoek,” sê hy.

Rheado bestee al sy vrye tyd aan sokker en is vasberade om in die toekoms beroepsokker in die buiteland te speel. Hy speel van 10-jarige ouderdom af al sokker en het as jong speler vir Maties uitgedraf. Hy is sedert sy terugkeer van Amerika ’n lid van Nelsons-voetbalklub.

“Nelsons sal altyd my eerste keuse wees, want hier is ons soos een groot familie. My medespelers is soos broers en my afrigter, Christo Wenn, is soos ’n pa vir my,” sê hy.

Coach Christo leer my om altyd respekvol te wees en motiveer my om net my beste op die veld te gee, maak nie saak waar ek speel nie, want mens weet nooit wie is deel van die toeskouers nie.”

Rheado het aan die einde van die 2022-seisoen Nelsons se o.17-Speler van die Jaar-trofee verower en terselfdertyd sy buiging vir die klub se senior span gemaak. Hy het in verlede seisoen se 15 wedstryde 12 keer die agterkant van die doelnet getref en met ses doele ondersteun. In die afgelope naweek se wedstryd, Nelsons se eerste ligawedstryd, het dié talentvolle voorspeler in die laaste 25 minute die veld betree en vinnig ’n driekuns aangeteken.

“Rheado is ’n goeie jong speler met ’n blink toekoms. Hy is altyd ywerig vir leer en werk baie hard,” sê Wenn. “Hy is gedissiplineerd en ’n spanspeler wat in elke wedstryd sy beste gee. Hy het ’n baie goeie oog vir ’n doel en ek glo dat hy weer een van ons top-doelskieters van die seisoen gaan wees. Ek het in die verlede vir Deano van Rooyen (Stellenbosch FC) en Ashley du Preez (Kaizer Chiefs) afgerig en ek glo Rheado is in staat is om in dieselfde rigting as dié twee sokkerhelde te gaan.”

Aangesien dit BT Football Recruitment Agency se missie is om talentvolle sokkerspelers te identifiseer en hul geleenthede by professionele sokkerklubs in Afrika en in die buiteland te bied, is dit Rheado se hoop dat ’n sokkerkenner, direkteur of afrigter van ’n topklub hom sal sien en ’n kontrak sal aanbied.

“Ek is in ekstase oor die geleentheid om voor die groot sokkergeeste te speel, maar ek besef ook dis ’n geleentheid wat baie min seuns kry. Ek is gereed om my beste te gee.”

Rheado het verskeie mense en ondernemings bedank vir hul finansiële bydrae tot sy toer, insluitend sy ouma, Cindy Paulse, Beyerskloof-wyne, rdl. JC Anthony, die Stellenbosch-munisipaliteit, JTR Welding, JM Tinting, ASR Glass en Christie Wenn.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.