“Dit het ons wildste verwagtinge oortref.”
Só beskryf die matrieks van die Hoër Meisieskool Bloemhof die matriekgeselligheid wat Donderdag 22 Oktober in die plek van die tradisionele matriekafskeid aangebied is.
Die skool se veiligheidsprotokol is op die aanwysings van die departement van basiese onderwys gegrond en gevolglik moes Bloemhof vanjaar se matriekafskeid óf afstel óf aanpas.
’n Besluit is geneem om ’n skemerkelkie-geleentheid vir die klas van 2020 te hou, maar die graad 12’s sou nie metgeselle kon saambring nie, die geselligheid moes in die buitelug in die skool se vierkant plaasvind en geen toeskouers is op die skoolterrein toegelaat nie. Die meisies moes ook vroeg aanmeld sodat hul temperatuur gemeet en hande ontsmet kon word.
Die aankoms op die rooi tapyt is regstreeks op YouTube uitgesaai sodat ouers en ander leerders die meisies in hul uitrustings kon sien.
Behalwe vir roerende afskeidsboodskappe deur Mieke Matthee en Nichola Viviers, die skool se hoofmeisie en adjunkhoofmeisie, is die wenner van die gesogte Bloemhofbondprys daardie aand aangewys.
Lize Burger is vanjaar die ontvanger van dié prys, wat aan ’n leerder gaan wat entoesiasme vir die skool se tradisies toon, ’n aktiewe rol in die skool vervul, haar klasmaats aanmoedig om by skoolgeleenthede betrokke te raak en die Bloemhof-waardes van omgee, werksetiek, afgerondheid, respek en integriteit uitleef.
Die prys bestaan uit ’n wisseltrofee, ’n silwer armband en ere-lidmaatskap van die Bloemhof-bond, die skool se oudleerdervereniging.
“Dié prys is nie bloot net ’n prys vir ’n eenmalige prestasie nie, maar ’n erkenning van ’n entoesiastiese en lojale lewenswyse,” het Maryna de Waal, skakelbeampte van die Bloemhof-bond, gesê.
“Die Bloemhof-bond is trots om met Lize geassosieer te word,” het sy bevestig.
Lize sê haar hart borrel steeds van geluk oor. “Ek is so dankbaar dat ek die geleentheid kry om deel te wees van hierdie band wat ons Bloemhofsussies bymekaar hou.”
Die hoogtepunt van die aand was ongetwyfeld toe Danie du Toit van die gewilde sanggroep Spoegwolf sy verskyning gemaak het en die Bloemhoffers luidkeels kon saamgesing.
Die aand was ’n verrassende verandering waar op ’n ontspanne manier afskeid van die Klas van 2020 geneem kon word.