Feesgangers kan uitsien na ’n bekoring van die sintuie met meer as klassieke musiek by die 14de Klein Karoo Klassique op Oudtshoorn.
Vanjaar se feesprogram, aangebied in die Klein Karoo van Donderdag 3 tot Sondag 6 Augustus, vervleg ’n reeks ervarings met musiek deur van Suid-Afrika se voorste klassieke musici, wat nie net geleenthede bied om die kunstenaars te leer ken nie, maar ook boekgesprekke, kunsuitstallings, ’n historiese wandeltoer en heerlike kos- en wynervarings insluit.
Klassique word in die middel van Oudtshoorn aangebied, met meeste feestelikhede wat in die Burgersentrum en in die Banketsaal plaasvind. Ses musiekuitvoerings word gevolg deur gesprekke met kunstenaars, waaraan feesgangers kan deelneem en wat heelwat stof tot nadenke bied, wanneer kunstenaars insig oor die nuanses van die musiek deel.
Die eerste drie musiekgesprekke word gelei deur die legendariese Suid-Afrikaanse kunstenaar Coenie de Villiers as fasiliteerder.
Saterdagmiddag neem die immergewilde Lynelle Kenned oor as fasiliteerder. Die twee uitvoerings op Sondag 6 Augustus word beide gevolg deur ’n musiekgesprek.
Daar is drie geleenthede om oor literatuur met skrywers te gesels, moontlik gemaak deur NB Uitgewers. Boekjoernalis Elna van der Merwe is die fasiliteerder. Talle boeke is ook te koop by die Boekeparadys, waar feesgangers kan kies uit ’n reeks boeke en aandenkings, met verskeie winskope.
Visuele kunstenaars uit die Klein Karoo stal hul werke uit as deel van die fees se saamgestelde visuele kunsuitstalling getiteld Earth has Music for those who Listen. Die plaaslike kunstenaar Janet Dixon is die kurator van dié viering van die komplekse verhouding tussen natuur en musiek, vanuit ’n Klein Karoo-perspektief. Kunswerke van gevestigde en opkomende kunstenaars uit die Klein Karoo word uitgestal en verkoop. Feesgangers kan Vrydag- en Saterdagmiddag om 16:00 by Dixon aansluit vir ’n toer.
Vanjaar word daar ook historiese wandeltoere deur Roydin Engelbrecht van RJ Tours aangebied. Hierdie gemaklike staptoer besoek belangrike argitektoniese geboue op Oudtshoorn.