Die pianiste Gerhard Joubert en Brathew van Wyk is Vrydagaand op die verhoog van die Endler-saal in A Night at the Piano.


’n Unieke en opwindende konsert wag Vrydag (10 Mei) om 19:00 op liefhebbers van goeie klaviermusiek in die Endler-saal in Stellenbosch. Gerhard Joubert (klassiek) en Brathew van Schalkwyk (jazz), gesamentlike wenners van die 2023 Unisa-nasionale klavierkompetisie, deel die verhoog in A Night at the Piano.

Joubert speel die eerste helfte; sy programkeuse bevat werke van ses komponiste, en het almal beskrywende titels: van Rameau se “Les Tendres Plaintes” en “Le Rappel des Oiseaux” tot Debussy se “L’Ile Joyeuse”. Daar is ook ’n “Impromptu” van Schubert, ’n “Nocturne” van Fauré, wie se honderdjarige sterfgedenkjaar dit is, ’n “Barcarolle” van Chopin, en die “Berceuse” van Arnold van Wyk, wie se laaste klavierkomposisie dit was.

Joubert vertel dat hy sy liefde vir Fauré opgedoen het nadat hy sy musiek begin ontleed het as die direkte gevolg van sy teorieklasse by Hendrik Hofmeyr. Hy is ook reeds as kind blootgestel aan die musiek van Van Wyk omdat sy ma, die pianis Liza Jou­bert, graag sy klaviermusiek gespeel het – onder meer die grootse “Nagmusiek”.

Dit kom dus as geen verrassing nie dat sy ma sy loopbaan beïnvloed het, want Joubert is nie die enigste wat deur haar geïnspireer is nie; Liza is inderdaad die inspirasie vir die ikoniese liedjie deur die plaaslike sanger en liedjieskrywer Koos Kombuis in “Lisa se Klavier”.

Van Schalkwyk, wat die tweede helfte speel, het sy program saamgestel met jazz-komponiste wat almal bekend is as uitstekende pianiste. Vier van sy ses werke is deur Suid-Afrikaanse komponiste. Die ikoniese Abdullah Ibrahim, wat vanjaar 90 word, se “District 6” open die tweede helfte. Daar is ook werke van Van Schalkwyk se twee inspirerende mentors, Nduduzo Makhathini (Emkhathini) en Bokani Dyer (Hope Spring), op die program.

Een van Van Schalkwyk se eie stukke, “Miss Tried”, is die middelste deel van sy suite, “Tried and Missed”, wat later vanjaar op sy debuutalbum sal verskyn. En dan is daar “Lush Life” van Billy Strayhorn asook “Nasci­men­to” van Barry Harris – albei legenda­riese jazz-pianiste en -kompo­niste.

Joubert en Van Schalkwyk is deel van ’n wyer vriendekring van jong pianiste in Kaapstad, wat gereeld laataand by die South African College of Music by UCT filosofeer oor musiek en komponiste. Die konsert is ’n geleentheid vir mense om hul musiek­horisonne te verbreed en hierdie twee belowende jong kunstenaars te onder­steun.

Kaartjiepryse begin by R125 tot R165 elk, en kan aanlyn deur Webtickets bespreek word.

You need to be Logged In to leave a comment.