Klavierwerke van Schumann kom

Die bekende Suid-Afrikaanse pianis Pieter Grobler keer Vrydag (1 November) terug na die Endler-saal vir ’n spesiale voordrag opgedra aan die musiek van Robert Schumann.


Die bekende Suid-Afrikaanse pianis Pieter Grobler keer Vrydag (1 November) terug na die Endler-saal vir ’n spesiale voordrag opgedra aan die musiek van Robert Schumann.

Grobler, ’n medeprofessor in klavier aan die Universiteit Stellenbosch, sal ’n genuanseerde verkenning van Schumann se genialiteit aanbied – van sy geliefde werke tot minder bekende juwele.

Die program sal twee van Schumann se meesterstukke bevat: “Carnival Opus 9” en “Fantasy Opus 17”, aangevul met minder bekende stukke, wat laat in die lewe deur die kundige hand van Franz Liszt verwerk is, asook ander skatte.

Grobler, wat lankal bekoor is deur Schumann se verbeelding en bemeestering van die klavier, sê: “Alhoewel Schumann nooit sy droom kon verwesenlik om ’n konsertpianis te word nie, val dit jou op hoe goed hy die klavier as instrument moes verstaan het wanneer jy aan sy musiek werk. Dit het hom toegelaat om in sy klavierkomposisies ongelooflik verbeeldingryk te wees.

“Uiteindelik is die musiek vol (partykeer verbysterende) kontraste wat tog in die oomblik werk; interessante ritmes en teksture, asook ryk liriese harmonie.

“In al sy klaviermusiek is frasering en stemvoering ’n enorme uitdaging, wat nie sonder ure se eksperimentering kan gebeur nie. Dis dalk hierdie eksperimenteringsproses om die werk in die lewe te roep wat ek so kreatief vind.”

Oor sy keuse van werke verduidelik Grobler: “Saam met die twee groot werke uit sy mees bekende era van klaviermusiek het ek ’n solo uit ’n laat koorwerk, asook ’n kunslied wat hy as deel van ’n bundel om sangers mee op te lei, geskryf het. Schumann was baie doelmatig as komponis en hoewel sy later werk onder (somtyds lui) kritiek ly dat hy inspirasie verloor het, is dit dalk ook omdat hy voortdurend in sy loopbaan anders skryf na gelang van die doel van die musiek. Liszt moes ook die waarde hiervan verstaan het deur dit ná Schumann se dood vir soloklavier te transkribeer.”

Die konsert vorm deel van die Endler- Prestige-konsertreeks en begin om 19:00.

  • Kaartjies kos R165 (standaard), R125 (pensioentrekkers) en R60 (studente) en kan aanlyn deur Webtickets of by die deur gekoop word.
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.