Die spontane Kendall Kleinschmidt van Franschhoek het die Paasnaweek vanjaar nie met net een nie, maar sommer drie skoonheidstoekennings weggestap nadat sy aan drie afsonderlike skoonheidskompetisies deelgeneem het.
Haar ma, Sherlin Kleinschmidt, vertel hulle was almal verstom, veral omdat die sesjarige net minder as ’n jaar gelede aan skoonheidskompetisies begin deelneem het.
“Aangesien Kendall kommersiële modelwerk doen, wou ons haar nie aan skoonheidskompetisies laat deelneem nie. Almal het ons gemotiveer om dit te doen, aangesien sy so ’n spontane mensie is. Sy het in 2023 met skoonheidskompetisies begin en haar eerste plaaslike kompetisie gewen. Baie van die toeskouers het gesê sy gaan ver kom en sy is ’n natural.
“Tot dusver het sy al haar kompetisies gewen en tog is sy so nederig in die sin dat sy weet dit gaan nie net oor die kroon en titel nie. Met die hele proses het ons as haar ouers ook kom leer dat dit nie net gaan oor mooi lyk en model word nie, maar dat daar baie tyd, opoffering en harde werk saam met dit kom. Sy neem aan talle gemeenskapsprojekte deel, waar ons as gesin ook hard saam moet werk. Dus maak nie net Kendall ’n verskil nie, maar leef ek as ma ook my passie uit om mense te help.”
Die titels wat Kendall die afgelope Paasnaweek gewen het, is Miss Cape Town 2024, Miss Western Cape 2024 en Philanthropist Queen Western Cape 2024.
Die drie vorige plaaslike titels wat sy gewen het, was Miss Iceflake 2023, Miss Tiny Franschhoek Valley 2023 en Miss Tiny Toddler Stellenbosch 2023.
“Dit voel goed en nou kan ek ander kinders wat my ouderdom is, ook bemoedig,” sê Kendall oor haar titels.
Sherlin vertel tydens een van die onlangse kompetisies het die beoordelaars Kendall gevra of sy dink sy gaan wen, en haar antwoord was: “As ek vandag een kroon kan kry, sal dit ’n bonus wees vir al my harde werk.”
Kendall is tans ’n gr. R-leerder in Franschhoek.
Sy vertel dat sy baie lief is om te teken, verf, dans, bak, swem en met haar hond, Bella, te speel.
Die meisietjie is ook van jongs af betrokke by die Anglikaanse kerk in Franschhoek waar sy ’n liturgiese danser is.
Wanneer sy op die verhoog is, is sy glad nie skaam nie, maar eerder baie opgewonde. Die fotograaf het ook nie nodig om twee keer te vra dat Kendall vir ’n foto poseer nie. Sy is vasberade om eendag weg te stap met die Mej. Suid-Afrika-titel en sy wil ’n mediese dokter word, soos dr. Tamaryn Green van die Paarl, wat ook die nasionale skoonheidskompetisie gewen het.
Hoewel Kendall daarna uitsien om eendag siek kinders te help gesond word, sien sy vir eers uit na die res van die jaar se harde werk en die kompetisies wat voorlê.