’n Groep gemeenskapsverteenwoordigers en belangstellende individue van die klein nedersettings van Pniël, Raithby, Jamestown en Kylemore, het onlangs bymekaargekom om die uitdagings wat die gemeenskappe in die gesig staar, te bespreek.
Volgens die fasiliteerder van die vergadering, prof. Ronnie Donaldson van die Universiteit Stellenbosch (US) se departement geografie, was dit ’n geskiedkundige gebeurtenis toe die verteenwoordigers Saterdag 17 September by die Voorgelegen-museum in Dorpstraat, Stellenbosch, bymekaargekom het. “Dit was waarskynlik die eerste keer dat verteenwoordigers van al hierdie nedersettings om ’n tafel sit om hul kommerwekkende kwessies te bespreek.”
Pniël is deur die Pniël-gemeenskapsontwikkelingsforum verteenwoordig, terwyl Raithby deur die Raithby-belastingbetalersvereniging, Jamestown deur die Jamestown-erfenisvereniging en Kylemore deur individuele verteenwoordiging, verteenwoordig is.
Volgens Donaldson kon nie een van die munisipale amptenare wat na die vergadering genooi is, die vergadering bywoon nie.
“Al vier nedersettings het die afgelope tien jaar voortdurende ontwikkelingsdruk ervaar – nie voordelig vir hulle nie. Die ontwikkeling van hoë-inkomste- omheinde landgoedere het die ruimtelikheid van die nedersettings verander en segregasie afgedwing, wat ’n gevoel van ‘ons en hulle’ in die nedersettings geskep het – iets wat nie voorheen bekend was nie,” voeg hy by.
Die verteenwoordigers is dit eens dat hul erfenis – tasbaar en ontasbaar – bedreig word. “Die algemene tema wat in die bespreking aanklank gevind het, was dat die munisipaliteit die nedersettings ‘in besit geneem’ het deur die wyse waarop dit sekere soorte ontwikkelings toegelaat het om plaas te vind, soos byvoorbeeld die vulstasie in Pniël, die volgehoue ??goedkeuring van omheinde ontwikkelings in die nedersettings en die vestiging van ’n hervestigingsperseel in Jamestown.”
Die groep voel die wyse waarop openbare deelname bestuur word, moet heroorweeg word, want die plasing van ’n advertensie in die plaaslike koerant word nie gesien as ’n gepaste meganisme om gemeenskappe te betrek nie.
Benewens die beroep tot verbeterde betrokkenheid by gemeenskappe was die herafbakening van die stedelike rande om die plaasgedeeltes in Raitby en Jamestown uit te sluit, die moontlikheid om ’n grondtrust in Pniël te stig, die prioritisering van bekostigbare behuisingsontwikkelings teenoor hoë-inkomste gesegregeerde landgoedere, asook ’n strategie om gentrifikasie te bestuur, wat as prioriteitskwessies vir bespreking met die munisipaliteit geïdentifiseer is.
Die behoefte aan ’n aktiewe kultuurerfenisbeleid is ook geprioritiseer. “Voorstelle wat by die vergadering voorgelê is, sal geformaliseer en aan die burgemeester voorgelê word, wat ingestem vir ’n vergadering met die groep wat informeel ??as die ‘Klein Dorp Aksieforum’ bekend staan.”