Karla, Ilse en Lisa Brugman, Stellenbosch se skaakspelende sussies, het vanjaar goed afgeskop en reeds ’n hele aantal puik prestasies in dié sport behaal.
Die sussies is uitgenooi na die Sunway International Chess Championship in Sitges, Spanje waar hulle die toernooi op aanbeveling van Aleksa Stricovic, voormalige wêreld nr. 2-skaakspeler, aangepak het.
Al drie Brugman-dogters het in die top 4 geëindig vir hul onderskeie ouderdomme. Dit is ’n Grand Prix 1-toernooi en die wêreld se room kruis hier swaarde. In die toernooi het Lisa (9) gespeel teen ’n vrou van 83 jaar oud en ondanks die ouderdomsverskil van 72 jaar, kon Lisa wys van watter formaat Suid-Afrikaanse skaakspelers is deur die wedstryd te wen.
Ilse (12) het verloor teen ’n internasionale meester, wat ouer as 50 is.
“Die skaakmeester het na die tyd gesê sy was gelukkig om vir Ilse te wen en sy het in haar hele loopbaan nog net vir twee vroue gesê hulle gaan groot meesters word. Die een is reeds ’n groot meester en Ilse is volgende,” het die Brugmans se pa, Delary, gesê.
By die Suid Afrikaanse junior skaakkampioenskap wat by die Universiteit Kaapstad gehou is, het Laerskool Stellenbosch vier spelers as deel van die WP-span by die toernooi gehad.
Ilse Brugman was die WP Ope-kaptein o.14 (die enigste meisie in die WP wat gekies is as ope-kaptein). Karla Brugman, 0.14 behaal 6.5 punte uit 7 – sterk prestasie. Karla en Ilse is slegs 12 jaar oud. Karla se tweelingsuster, Ilse, was die nommer een WP-speler.
Juan Compaan het ook beïndruk aangesien hy ’n jaar jonger is maar ook die o.10-span gehaal het. Al hierdie leerders se spanne het op die podium geëindig.
SAJCC is ’n voorvereiste vir die land se mees gesogte uitnodigingstoernooi, die SA geslote kampioenskap, waarheen al drie die Brugmans genooi is.