In die aanloop tot die 2023-wyndruifoes, wat van Januarie tot April strek, dui die tweede van vier oesskattings deur wingerdboukundiges en produsentekelders op ’n kleiner oes as 2022 én die eerste skatting wat in Desember 2022 gepubliseer is.
Die oes word op hierdie vroeë tydstip kleiner beraam en dit kan die vierde kleinste oes in 17 jaar wees.
“Die seisoen word gekenmerk deur meestal gemiddelde koue-eenhede en minder sneeu-neerslae op bergpieke as in vorige seisoene,” sê Conrad Schutte, bestuurder van Vinpro se span wingerdboukundiges, wat die oesskattings saam met die bedryfsliggaam Sawis (Suid-Afrikaanse wynbedryfinligting en -stelsels) uitreik.
“Dit was egter steeds genoeg om aan wingerde se kouebehoeftes te voldoen. Wintertemperature was meestal warmer oor al die wynproduserende streke en die reënval was noemenswaardig minder, met die uitsondering van die Noord-Kaap.”
Die meestal warmer lente en droë grondtoestande het daartoe gelei dat bot oor die algemeen vroeër plaasgevind het. Die egaligheid van bot was bevredigend, maar vir sekere kultivars soos chardonnay was die bot in sekere gebiede ongelyk. Die meeste wingerde was gedurende blomtyd steeds ietwat vroeër as normaal en variasie het ook in die set van kultivars voorgekom.
Noemenswaardige verandering in die seisoen het gedurende die tweede week in Desember plaasgevind, waartydens harde reënbuie groot verligting tot die meestal warm en droë seisoen gebring het. Hierdie reën het welkome druk op besproeiingskedulering gebring met grondwatervlakke wat onder normaal was. Dit het ook druk verlig omdat produsente weens beurtkrag nie behoorlik besproeiingskedulering kan toepas nie.
Die reën het sporadiese haelskade in Paarl, Worcester en Robertson swamsiektedruk veroorsaak. Veral witroes en donsskimmel is deur die nat toestande verhoog en produsente moes spuitprogramme daarvolgens aanpas. Paaie en ander infrastruktuur is ook beskadig, en dit moes herstel word.
“Die afname in die skatting word hoofsaaklik aan wingerduitkappings in veral die Noord-Kaap, Olifantsrivier en Swartland toegeskryf,” sê Schutte.
“Verder het hoë siektedruk, veral witroes-infeksies in die Noord-Kaap, Olifantsrivier, Swartland, Paarl, Stellenbosch, Kaap Suidkus en Kaapstad veroorsaak, wat ’n negatiewe invloed op die oes se grootte sal hê. Hittepieke in Desember en Januarie het sonbrand in veral die Swartland, Worcester en Breedekloof veroorsaak. Oor al die streke, veral die intensiewe besproeiingsgebiede, sal die gebrek aan elektrisiteit om besproeiingspompe te laat werk ’n negatiewe impak op die oesgrootte hê.”
Wyndruifproduksie in die Klein Karoo word hoër as in 2022 se seisoen geskat danksy jong wingerde wat in produksie kom en watervlakke wat belowend lyk.