Dit is weer daardie tyd van die jaar wanneer inwoners van Stellenbosch bewus word van spatsels kleur en unieke kunswerke wat stilweg in en rondom dié dorp verskyn.
Daar is pragtige proteas van herwinde plastiek, ’n grafiese suikervoël wat motoriste by die oprit van die Eikestad Mall in verwondering sal laat staar asook gloeiende jellievisse by die Kunssentrum PJ Olivier in Blomstraat.
Die kunswerke is deel van die kunssentrum se jaarlikse Straatkunskompetisie vir sy gr. 11-leerders, wat sedert 2022 aan ’n staproete deur die dorp gekoppel word. Die kompetisie bied die ontluikende jong kunstenaars die geleentheid om lewe aan hul werk te gee en betrek ook inwoners en toeriste deur hulle stap-stap aan die pragtige dorp bekend te stel.
Vanjaar se staproete staan bekend as #PJOkunsspore24 of #PJOart_tracks24. Dit begin by die Kunssentrum PJ Olivier, waarna dit deur die hele dorp kronkel. Die 12 kunswerke sal op spesifieke plekke in die staproete besigtig kan word. ’n Pragtige kaart wat al die kunswerke op die roete aandui, is by die sentrum vir die duur van die buitelug-uitstalling beskikbaar.
Die staproete word Saterdag 14 September om 10:00 by die Kunssentrum PJ Olivier bekendgestel en almal wat belangstel, word hartlik uitgenooi om te kom saamstap. Die 12 kunstenaars sal op die rondleiding teenwoordig wees om oor hul werk te gesels.
Volgens Isabel Verwey, die uitvoerende direkteur van Proud Partners, een van die projek se borge, is hulle opgewonde oor die uitwerking wat die kompetisie in die dorp, sowel as op die leerders, maak.
“Vandat ons in 2016 met die kompetisie begin het, het dit elke jaar net gegroei en die reaksie daarop is oorweldigend positief,” verduidelik Verwey. “Dit bied nie net ontluikende jong kunstenaars die geleentheid om aan hul werk lewe te gee nie; dit lewer ook interessante besprekingspunte onder dorpenaars en dit gee toeriste ’n unieke blik op die lewendige dorp en sy gemeenskap.”
Die kompetisie is ’n geleentheid wat die kunssentrum aan sy leerders bied om blootstelling aan kuns in die praktyk op te doen.
’n Spesiale prys vir die kunswerk wat die meeste “likes” op die Kunssentrum PJ Olivier se Instagramblad (@pjokunsspore24) is ook op die spel.
Inwoners en besoekers aan Stellenbosch kan daarna uitsien om die unieke straatkuns nog tot laat volgende jaar te geniet.