Klinieke wysig diens

Die provinsiale departement gesondheid en welstand is op ’n missie om planne in te stel om pasiënte in Stellenbosch en omliggende dorpe selfs beter te ondersteun.


Die provinsiale departement gesondheid en welstand is op ’n missie om planne in te stel om pasiënte in Stellenbosch en omliggende dorpe selfs beter te ondersteun.

Die departement is voortdurend op soek na geleenthede om dienste te verbeter en hulpbronne so doeltreffend as moontlik te gebruik. Met hierdie doel word die gemeenskap se aandag op aanpassings aan dienste in die Cloetesville- en Groot Drakenstein-omgewings gevestig.

Cloetesville

Die Aan Het Pad-kliniek en Cloetesville-gemeenskapsdagsentrum dien dié gebied.

Die fasiliteite is destyds deur verskillende rolspelers gevestig, maar sedertdien streef die departement om beter gebruik te maak van die vaardighede van die bestaande personeel en om dienslewering by elk van hierdie fasiliteite te verbeter.

Die dienste wat by die Aan Het Pad-kliniek gelewer word, is nou gefokus op ondersteuning aan swanger vroue, immunisering en ontwurming van babas, weeg en meet van babas, gesinsbeplanning, papsmere en ondersteuning aan pasiënte met kroniese toestande wat reeds aan die departement bekend is (slegs per afspraak).

Die Cloetesville-gemeenskapsdagsentrum sal steeds ’n omvattende pakket dienste lewer. Hier kan mense die kliniek met of sonder ’n afspraak besoek as jy skielik siek word, as jy gesinsbeplanning nodig het, as jy uitdagings het met die bestuur van jou kroniese toestand, of indien jy hierheen verwys word.

In sommige gevalle sal jy aanvanklik by die Cloetesville-gemeenskapsdagsentrum gehelp word en sal jou opvolgafspraak by die Aan Het Pad-kliniek geskeduleer word.

Die departement se bestuurder in die Stellenbosch-omgewing, dr. Natasha Blanckenberg, sê dat die span reeds ’n geruime tyd beplan hoe pasiëntsorg in hierdie omgewing meer doeltreffend kan wees.

“Almal sal steeds toegang hê tot die dienste waarmee hulle bekend is, maar afhangende van die diens wat jy benodig, sal jy na Aan Het Pad of Cloetesville toe moet gaan,” sê sy.

“Ons besef dat dit vir sommige mense ongerieflik kan wees om ’n kort afstand verder te reis, maar ons weet dat ons met die nuwe manier waarop ons dienste groepeer, beter gebruik van ons personeel se vernuf maak. Uiteindelik sal die vloei van pasiënte beter wees en sal dit vir pasiënte meer aangenaam wees.”

Groot Drakenstein

In die Groot Drakenstein-area maak die departement gebruik van mobiele klinieke wat basiese gesondheidsdienste lewer.

Die departement vergroot nou die Groot Drakenstein- mobiele kliniek se dienste deur die toevoeging van ’n satelliet-kliniek in Pniël.

“Ons het met behulp van ander rolspelers die geleentheid gesien om dienste soos immunisering en kroniese sorg uit die gebou wat voorheen Pniël se poskantoor was, te kan lewer,” sê sr. Margrieta Muller, die assistent-bestuurder van primêre gesondheid in Stellenbosch.

“Mobiele klinieke is ingerig om dienste wat jou gesondheid beskerm, so na as moontlik aan jou te bring, maar dit is ’n kompakte eenheid. ’n Gebou bied meer gerief.”

Muller bedank die Stellenbosch-munisipaliteit vir die gebruik van die gebou, asook sy vennoot, Right to Care.

Mobiele en satelliet-klinieke is verlengstukke van klinieke en bied dienste volgens ’n vasgestelde skedule.

Voorkomende gesondheidsdienste sluit in die immunisering van jonger kinders om siektes te voorkom en hulle te help groei en ontwikkel, voorbehoedmiddels vir vroue, soos onder meer die pil en ’n inplanting.

Dienste aan kroniese pasiënte sluit in waarnemings, soos die neem van jou bloeddruk en die uitgee van medikasie.

  • Kontak die Pniël-satelliet-kliniek by 021 837 0560 (Maandae, Woensdae en Vrydae van 07:30 tot 13:00; openbare vakansiedae uitgesluit).
  • Kontak die Groot Drakenstein- mobiele kliniek by 021 885 2504 op dieselfde tye.
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.