Die gewilde Veritas-wynproeë vir die publiek om die dubbelgoue en goue wenners eerstehands te ervaar, word binnekort in Kaapstad, Paarl en Stellenbosch aangebied.
Met een van die mees suksesvolle jare van die Veritas-wynkompetisie agter die rug in 2021, kan wynliefhebbers nou die 235 kampioenwyne en brandewyne weer na hartelus proe nadat die Covid-19-pandemie dié proegeleenthede vir ’n tydperk onderbreek het.
Die uitslae van die 2021-kompetisie is in November verlede jaar aangekondig, daarom word die proeë vroeg vanjaar aangebied. Dit sal ook die eerste keer wees dat wynproewers die VinoVeritas-app by ’n wynproe sal kan gebruik deur hulle wyn te bestel soos wat hul dit loop en proe. Die app is reeds in 2020 bekend gestel.
Weens Covid-regulasies is daar ’n beperking op die aantal kaartjies by elke proe-geleentheid, en alle Covid-protokolle sal by die proeë toegepas word.
Die eerste proesessie word Woensdag 16 Februarie by L’ Atrium by die Grande Roche-hotel in Paarl aangebied, gevolg deur sessies by die Deloitte-hoofkantoor by die V&A Waterfront (Donderdag 24 Februarie) en die Spier-wynkelder in Stellenbosch (Dinsdag 8 Maart). Al drie geleenthede vind van 17:00 tot 20:00 plaas.
Kaartjies kos R220 per persoon, wat ’n elegante wynglas insluit. Ligte verversings sal te koop wees. Bespreek jou plek aanlyn by Quicket.