’n Kommerwekkende prentjie oor kindergesondheid hang oor die Kaapse wynlande met ’n onlangse opname wat toon kinders in hierdie gebied ontvang nie altyd voldoende gesondheidsorg nie.
Volgens die jongste verslag oor die impak van die diarree-seisoen op kinders van vyf jaar en jonger (1 November 2021 – 31 Mei 2022) kry kinders van die Kaapse wynlande nie voldoende voeding nie, hulle is nie op datum met immuniserings nie, hul groei word nie gemonitor nie en volwassenes reageer nie altyd vinnig genoeg op die gevaartekens van diarree-siekte nie.
Die gesondheidsdepartement in die Kaapse wynlande meen egter hierdie prentjie kan verander indien ouers, voogde, kinderoppassers en alle volwassenes kinders se welstand van jongs af eerste stel.
Die departement het verlede Maandag (8 Augustus) in ’n verklaring gesê die diarree-seisoen is sinoniem met diarree-siekte en akute wanvoeding. “Wanneer ’n jonger kind diarree opdoen (’n loopmagie) en nie vinnig gehelp word nie, kan die kind ontwater en selfs sterf. Kinders wat aan wanvoeding ly, word in diarree-tyd selfs swaarder getref .
“Kinders se immuunstelsels ontwikkel nog, en wanneer ’n kind diarree-siekte of akute wanvoeding het, kan hulle maklik ander siektes soos longontsteking opdoen,” lui die verklaring.
In vergelyking met vorige jare se data, dui die verslag op ’n skerp toename in die aantal kinders wat weens diarree-siekte in al die gebiede behalwe die Breedevallei in die hospitaal opgeneem moes word.
Die verslag toon ook ’n skerp styging in die aantal kinders wat longontsteking opgedoen het asook ’n skerp styging in die aantal kinders wat weens longontsteking in die hospitaal opgeneem is en gesterf het.
Nog ’n skerp toename is die aantal kinders wat by klinieke en daghospitale weens ernstige akute wanvoeding behandel is. Vier van hierdie kinders het weens akute wanvoeding in die hospitaal gesterf.
“Wat dit meer kommerwekkend maak, is dat sewe kinders in hierdie tydperk gesterf het voordat vir mediese hulp uitgereik is.
“Die gemiddelde ouderdom van kinders wat wel gehospitaliseer is, maar gesterf het, is tussen 18 dae en 17 maande.
“Ons monitor kinders se gesondheid fyn en gee deurlopend inligting en ondersteuning aan ma’s en gesinne. Omdat ons dit fyn monitor, weet ons waarop om in sekere gebiede te fokus en ons kan ons strategie vinnig aanpas,” sê Adriane Petersen, ’n dieetkundige van die Wes-Kaapse departement van gesondheid, wat ondersteuning aan fasiliteite in die Kaapse wynlande bied.
Maar, sê Petersen, die sleutel tot ’n beter toekoms lê in voeding. “Indien volwassenes meer fokus op borsvoeding, die insluiting van kos eers op ses maande en voortgaan met borsvoeding tot op twee jaar, sal kinders in die diarree-seisoen minder kwesbaar wees.”