Die vrouekrieketspan van Coronation-krieketklub het op Sondag 19 Oktober hul seisoen met ‘n oortuigende sege begin.
Die span het in Idasvallei met die vrouespan van die Stellenbosch-krieketklub in ‘n 50-boulbeurtwedstryd van Boland-krieket kragte gemeet en die wedstryd met sewe paaltjies beklink.
Stellenbosch het eerste gekolf en 179/7 in hul 50 boulbeurte aangeteken.
Die lopie-bydraes van Gemeez Adams (37); die kaptein, Tinita van Zyl (35); en Jada Jacobs (25) het die span na ‘n verdedigbare totaal geneem.
Vir Corries was die staatmaker Mialize van der Vyver (2/27) die beste bouler.
Die kolwers van Coronations het slegs 36 boulbeurte nodig gehad om oor die lyn te kom. Van der Vyver (70) en Janel Steenkamp (70*) het pragbeurte gelewer om te verseker dat hul span die wedstryd op 180/3 eindig.
Die Stellenbosch-kaptein, Van Zyl, het ook met die bal uitgeblink en boulsyfers van 2/25 opgelewer, maar dit was nie genoeg om haar span na ‘n oorwinning te neem nie.
Op Sondag 26 Oktober is die Stellenbosch-span weer in ‘n ligawedstryd in aksie wanneer hulle na Worcester reis om met die vrouespan van die Worcester United-krieketklub kragte te meet.
Die vrouespan van Maties, wat die afgelope Sondag ‘n loslootjie gehad het, begin ook hul seisoen met ‘n tuiswedstryd teen die vrouespan van die Caledon-krieketklub. Coronations geniet ‘n loslootjie.


