Klubkrieket is terug

Die langverwagte klubkrieketseisoen het die afgelope naweek met gemengde uitslae vir spanne van die Stellenbosch-streek begin.


Die langverwagte klubkrieketseisoen het die afgelope naweek met gemengde uitslae vir spanne van die Stellenbosch-streek begin. Drie van die vyf plaaslike spanne in die Premierliga van Krieket Boland het welslae behaal. Die ander twee was egter aan die verloorkant.

Die eerste span van die Coronations-krieketklub het Saterdag 5 Oktober sy seisoen met ’n bonuspunt-oorwinning teen Worcester United by die Pniël-sportgronde begin.

Die tuisspan het die loot gewen en besluit om eerste te boul. Lehan Botha (3/42), Theo van Wyk (2/41) en Charl Cyster (2/34) het die Worcesteriete omtrent voor die penne laat bontstaan en het met die bal uitgeblink. United is in die 45ste boulbeurt vir 170 lopies uitgehaal.

Blayde Capell (78) was die enigste Worcester United-kolwer wat weerstand teen die Coronations-boulaanval gebied het.

Op hul beurt het die manne van Pniël met slegs vyf paaltjies plat die teiken met gemak en in 30.5 boulbeurte bereik.

Zamile Adams (41) en Botha (41) was die beste kolwers en het tot Coronations se vyf-paaltjie-oorwinning bygedra.

Charlton Fransman (2/30) was die besoekers se beste bouler.

By die Coetzenburg-ovaal het die Maties-krieketklub die span van die Wellington-krieketklub vir die openingswedstryd van die seisoen verwelkom.

Die besoekers het die loot gewen en die tuisspan ingestuur om te kolf. David Christie (125) het ’n briljante kolfbeurt opgelewer en sy span op koers na oorwinning gelei. Hy is goed bygestaan deur Josh Brown (39) en Kayden Solomons (38).

Moshin Khan (4/44) was die beste bouler vir Wellington en die Maties het hul beurt op 272/9 ná 50 boulbeurte geëindig.

Die studente se boulers het vroeg in die Wellington-kolfbeurt paaltjies platgetrek en die besoekers het uit die staanspoor gesukkel om op dreef te kom. Andre Mentz (2/12), Mphela Maleka (2/18), Daniel Ristow (2/22) en Ross Boast (2/35) het goeie vertonings gelewer en seker gemaak dat Wellington slegs 154 lopies in 38.1 boulbeurte aanteken.

Maties het die wedstryd met 118 lopies beklink en sodoende ook ’n bonuspunt behaal.

Van der Stel-krieketklub se eerste span het vir hul eerste wedstryd van die seisoen na Paarl gereis om kragte met die Young Peoples-krieketklub op die Dal Josafat-sportterrein te meet.

Die tuisspan het die loot gewen en Van der Stel ingestuur om te kolf. Riyaad Henry (66), Ruben de Bruin (61), Byron Haycock (39) en André Hanekom (31) het bygedra tot Van der Stel se 263/8 in 50 boulbeurte.

Vir Young Peoples het Jade Adams (3/38) en Clint Philander (3/44) aan die boul-front uitgeblink.

Die Stellenbossers het op hul beurt met die aanvang van die tuisspan se kolfbeurt hul stem dik gemaak en hul stempel op die wedstryd afgedwing. Divan Swanepoel (3/40) en Rayyaan Rhode (2/45) het van voor gelei, en het verseker dat Peoples slegs 185/7 in hul 50 boulbeurte aanteken.

Die kolfbeurte van Akeem Minnaar (75*) en Abriam Jacobs (26) was nie genoeg om hul span oor die lyn te kry nie, en Van der Stel het die wedstryd met 78 lopies en ’n bonuspunt gewen.

Beide die Stellenbosch- en die Victoriane-krieketklubs was in hul openingswedstryde aan die verloorkant, met beide wat met die kolfwerk gesukkel het.

Vics het teen die Paarl-krieketklub op die Parys-ovaal klippe gekou en met ses paaltjies die knie gebuig. Die tuisspan het die loot gewen en die besoekers gevra om te kolf.

Die Stellenbossers het nooit regtig aan die gang gekom nie en is in die 40ste boulbeurt met slegs 94 lopies op die telbord almal uitgeboender. Net James Kennedy (21) het ’n noemens­waardige beurt gelewer, terwyl Adrian du Toit (3/18) en Herchelle Poggenpoel (2/23) Paarl se beste boulers was.

Die tuisspan het ligte werk van die teiken gemaak en in die 23ste oor die wenstreep gedraf, danksy bydraes deur Jaywin Solomons (41*) en Du Toit (23). Ethan Cunningham (3/25) was die beste bouler in sy span se ses-paaltjie-loesing.

Die Stellenbosch-krieketklub het in sy wedstryd teen die Robertson-krieketklub goed begin en die tuisspan vir 193 lopies in 44.3 boulbeurte uitgeboul. Johnwin Lewis (4/48) en Curt Oliver (2/35) was die Stellenbossers se beste boulers, terwyl Roland Evertson en Deronde Slingers elk 29 lopies tot Robertson se telling bygevoeg het.

In hul kolfbeurt het die Stellenbosch-kolwers klippe gekou en gesukkel om aan die gang te kom. Hulle is in die 30ste boulbeurt vir slegs 69 lopies almal uitgehaal, en is met ’n 124-lopie-loesing terug na die Eikestad gestuur.

Peter Minnis (13) en Lewis (12*) is die enigste kolwers wat dubbelsyfers behaal het, terwyl Leolin Davids (4/17) en Bjorn Pienaar (2/10) Robertson se beste boulers was.

Hierdie Saterdag (12 Oktober) is al vyf spanne weer in aksie. Coronations speel gasheer vir Stellenbosch in Pniël, Vics reis na die Pen Basson-veld om kragte met Wellington te meet, en Maties ontvang Van der Stel by Coetzenburg. Die Spes Bona-, Excelsior-, Klapmuts-, Wemmershoek-, Franschhoek- en Raithby-krieketklubs is eers Saterdag 19 Oktober in die Kaapse Wynland se Suidelike liga in aksie.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.