Keenan Boonzaaier, ’n senter van die Franschhoek-rugbyklub, in aksie in ’n vriendskaplike wedstryd teen die Kuilsrivier-rugbyklub. Jihad Nordien (binnesenter) en Tristan Ehrenreich (losskakel) van Kuilsrivier probeer hom keer. Foto: Emile Crotz


Die rugbyklubs Franschhoek en Kylemore, twee van die drie spanne van Stellenbosch en die omliggende omgewing, begin hul aanslag om die titel in Superliga B Saterdag (13 April) wanneer hulle onderskeidelik teen Hands & Heart in Franschhoek en Hamlets in Mamre speel.

Van der Stel-Evergreens (VDE) se eerste ligaverpligting is eers Saterdag 20 April, wanneer hy gasheer speel vir Hamlets op die Bergzicht-sportveld.

Vriendskaplike wedstryde is nou iets van die verlede en breiers het nou min of meer ’n idee hoe hul spanne saamgestel moet word en watter kombinasies teen hul teenstanders in die komende weke uitgetoets moet word.

Vanjaar word net een ronde in al die ligas gespeel en vir elke span is dit nou ’n geval van wen ten alle koste om die eerste twee plekke in elke liga te behaal en sodoende vir die halfeindstryde aan die einde van Augustus te kwalifiseer.

Die twee spanne in posisie een en twee moet dan wag vir die vier spanne in posisie drie tot ses om in die kwarteindstryde uit te speel en te weet wie hulle onderskeidelik in die halfeindstryde moet pak.

Tydens ’n werksessie deur die Westelike Provinsie-rugbyunie is afgevaardigdes van die verskillende klubs in die onderskeie ligas ingelig oor die formaat van die kompetisie en ook oor wat tydens die ligas toegelaat gaan word en wat nie.

Superliga A-spanne is aangeraai om vrouespanne te ontwikkel en vir WP se vroueliga in te skryf om die spel te help groei. ’n Nuutjie is ook ’n o.19-liga vir seuns wat 18 jaar oud is, maar nie in die skolekompetisie mag speel nie, om hulle kans te gee om ’n ekstra jaar te speel voordat hulle in aanmerking kom vir die onderskeie klubs se o.20-spanne.

Klubs is ook ingelig oor die struikel­blokke wat oorkom moes word om die ligaverpligtinge só op te stel om almal te akkommodeer.

Van die struikelblokke wat genoem is, sluit in dat van die klubs die munisipale velde met ander sportsoorte deel, velde wat nie beskikbaar vir voorbereiding was nie en die klubs wat grotendeels uit Moslem-spelers bestaan wat nie kon voorberei nie weens die maand van Ramadaan, wat vandeesweek ten einde loop.

Klubs het ook inligting by die werk­sessie ontvang om almal vertroud te maak met wat van klubs verwag word.

Superliga C is die afdeling waarop almal se oë vanjaar gaan wees, want net in Stellenbosch lek die buurspanne hul lippe af vir die derbies waar geen genade gevra of gegee gaan word nie.

Die spanne in die onderskeie ligas:

  • Superliga A: Brackenfell, KSUT, Durbell, Valsbaai, Hamiltons, Helderberg, Kuilsrivier, Maties, NTK, SK Walmers, St. George’s, Tygerberg, UCT, UniMil en Villagers;
  • Superliga B: All Saints, Belhar, Bellville, Collegians, Franschhoek, Hamediehs, Hamlets, Hands & Heart, Kraaifontein, Kylemore, Langa, Strand, UWK, Van der Stel-Evergreens en Vineyards;
  • Superliga C: Atlantis, Blue Jets, Busy Bees, Eersterivier, Gardens, Goodwood, Macassar, Masiphumelele, Paarl, Pniël Villagers, Rangers, Scottsdene-Central, Strand United en Young Peoples;
  • Noordelike Liga: Stellenbosch-Coronations, Delft, Albions, Gordon’s Bay Pioneers, Raithby-Universals, Windmeul United, Whistling Wheels, Blakes, Sir Lowrians en Excelsior;
  • Suidelike Liga: Lagunya, Rocklands, Retreat, Noordelikes, Blue Stars, Watsonia, Titans, Peninsula, Young Stars en Young Wesleys; en
  • Stadsliga: Police, Silvertree, Manenberg Rangers, Western Zebras, Young Ideas, Caledonian Roses, Morning Star, Elsies River United en Violets.

You need to be Logged In to leave a comment.