Met die bekendstelling van die wedstrydbepalings van klubrugby in die Westelike Provinsie in Nuweland op Dinsdag 18 Februarie, weet klubs teen wie, waar en wanneer hul ligaverpligtinge begin.

Vir die Stellenbosch-gebied is die kragmeting tussen Maties en Van der Stel-Evergreens op Bergzicht op Saterdag 14 Junie, die stryd der stryde, want dit sal die eerste keer in meer as 20 jaar wees dat twee Stellenbosse spanne in Superliga A speel.

Om die spellyste vir die verskillende ligas op te stel, was nie ’n maklike taak nie, want verskeie faktore moes in aanmerking geneem word voordat die finale spellyste beskikbaar gestel is.

“Die liga duur amptelik van April tot einde September en faktore soos sportvelde wat nog met somersporte gedeel word, die maand van Ramadan wat op Saterdag 1 Maart begin en die tersiêre inrigtings wat nog by die Varsity-skild en Varsity- beker betrokke is, moes in aanmerking geneem word. Ons het ook aan klubs die opsie gegee om na die voorlopige spellys te kyk en onderling met hul teenstanders te reël as ‘n wedstryd verskuif moet word, met dien verstande dat die unie in kennis gestel word van die nuwe verwikkeling,” sê Faizel Felton, senior bestuurder vir klubrugby by WP-rugbyunie.

Hy het ook genoem dat Moslem-klubs uitstel gekry het om hul ligaverpligtinge ná die Ramadan te begin, wat beteken hulle sal nie net Saterdae kan speel nie, maar ook gedurende die week en op vakansiedae.

Tydens die bekendstelling van die spellyste vir die onderskeie ligas, is die moets en moenies om die ligas vanjaar seepglad te laat verloop, ook uitgestippel.

Slegs een ronde word gespeel en die twee spanne wat bo eindig, kwalifiseer outomaties vir die halfeindstryde, terwyl die spanne in posisie drie tot ses in kwarteindstryde gewikkel sal wees. Die twee wenners sal dan deurdring na die halfeindstryde om teen die twee topspanne kragte te meet met.

“Die sperdatum vir spelers om tussen klubs te skuif, is Saterdag 15 Maart. Dit beteken indien spelers nog in vriendskaplike wedstryde (tans aan die gang) voor die sperdatum vir ’n klub gespeel het, is die speler ’n lid van dié klub. Spelers sal dan hul vertrekkaarte van die ou klub moet kry en hulle dan by die nuwe klub op Footprint moet registreer. Geen klub kan ‘n speler se vertrekkaart weerhou nie. In die geval van provinsiale of internasionale skuiwe, moet die speler sy ontslagvorm by die Suid-Afrikaanse-rugbyunie invul en by die klub in sy nuwe provinsie inhandig en herregistreer,” verduidelik Felton.

“Spanne in Superliga A, B en C moet wedstryddae vier spanne – o.20’s, derdes, tweedes en eerstes – op die veld stoot. Twaalf spelers kan ’n wedstryd begin en moet ’n erkende voorry hê, want wedstryde kan nie sonder ’n onbestrede skrum begin nie. Alle Superliga A-spanne moet ’n vrouespan hê en dit sal in 2026 ook vir Superliga B- spanne geld.”

Spanne in Superliga A speel sewe wedstryde tuis en sewe weg, waarvan een ’n aand-wedstryd is. Die algemene reëls wat op wedstryddae geld, is ook aan die klubs verduidelik. Dit het betrekking op die administrasie-tafel, die uitlê van die veld, die tegniese areas, die mediese personeel en hoeveel spelers en beamptes op die veld toegelaat word.

Die datums vir afrigtingskursusse is ook bekend gemaak. Klubs kan tydens die seisoen spelers tot Maandag 30 Junie registreer. Al die inligting is ook aan die klubs gestuur en indien enige onduidelikhede bestaan, kan e-pos aan die unie gestuur word. Spanne ding mee in Superliga A, B en C, Noordelike-, Suidelike- en Stadsligas, asook in die Metropool-afdeling.

Die spanne wat aan die Superligakompetisie deelneem, is:

Superliga A: Brackenfell, Durbell, False Bay, Hamiltons, Helderberg, Kuils- rivier, Milnerton, SK Walmers, St George’s, Stellenbosch, Tygerberg, UCT, UWC, Van der Stel-Evergreens en Villagers.

Superliga B: Belhar, Bellville, Collegians, KSUT, Franschhoek, Goodwood, Hamlets, Hamediehs, Hands & Heart, Kraaifontein, Kylemore, Macassar, NTK, Primrose en Vineyards.

Superliga C: All Saints, Delft, Busy Bees, Atlantis, Caledonian Roses, Eersterivier, Gardens, Langa, Pniël Villagers, Rangers, Scottsdene-Central, Strand, Strand United en Young Peoples.

You need to be Logged In to leave a comment.